MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Henk Pienaar mag die oudste van die Boggomsbaai-gholfklub se drie gholfspelende broers wees, maar hy moes eers wag om sy beurt te kry om as klubkampioen gekroon te word.
Op Saterdag, 23 November het hy na 'n kwaai stryd teen sy twee broers en die ander spelers in die A-afdeling, met die louere weggestap.
Twee jaar gelede het sy jonger broer, Jaco, die kampioenskap gewen en hierdie jaar het die jongste boetie, Pienie, vir die eerste keer ook in die A-afdeling gespeel.
Henk is 'n eerstejaar student aan die Universiteit van Stellenbosch en die Boggomsbaai-gholfklub is saam met hom trots op die prestasie.
Die klubkampioenskappe is geborg deur Elna Loubser van Gariep Finansiële Beplanners van Aliwal-Noord. Die A-afdeling is gespeel oor 27 putjies en die res van die klub het in 'n B-, C- en vroueafdeling oor 18 putjies meegeding. Die sterk suidwestewind het alles in sy vermoë gedoen om spel te ontsier, maar dit het die meeste van die wenners van die afdelings min gepla.
Uitslae
A-afdeling: 1. Henk Pienaar 119, 2. Jaco Pienaar 122, 3. Leon van Schalkwyk 126, 4. Pienie Pienaar 128 en 5. Willem van Wyk 130.
B-afdeling: 1. Ernest Roux 84 en Cassie Swanepoel met 'n beste nettotelling van 76 onder die res van die spelers.
C-afdeling: 1. Johan Muller 91 en Jan Taljaard met 'n beste nettotelling van 69 onder die res van die spelers.
- Vrouekampioen: Eleonor Speelman 94.
- Spesiale prys: TJ Taljaard
TJ is 'n gestremde speler wat as gevolg van sy gebrek die gholfstok net met sy regterhand vashou en slaan. Die klub is baie trots op sy prestasies op die gholfbaan.
Daar is ook aan 'n stablefordkompetisie deelgeneem en die volgende spelers het die beste gevaar:
1. Jan Taljaard 40, 2. Eleonor Speelman 39, 3. Ernest Roux 39 en 4. Johan Muller 36.
Die naaste aan die penne is gewen deur Martin Speelman op 6/15 en Leon van Schalkwyk op 9/18.
Borgdae
Boggomsbaai-gholfklub begin op 7 Desember met 'n hele rits borgdae gedurende die feestyd. Kom speel gerus saam. Kontak vir André Beukes (082 460 0503) of vir Ernest Roux (082 469 9241) om navraag te doen en of plek te bespreek.
- 7 Desember - Jakkalsvlei Wynlandgoed 4BBS
- 14 Desember - Mosselbaai Toyota IPS
- 18 Desember - Julyan Bruyns se Lekker Gholfdag IPS
- 21 Desember - Buffelsdrift Game Lodge IPS
- 28 Desember - George Supa Quick IPS
- 4 Januarie - Mosselbaai Prima Part 4BBS.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'