SUID-KAAP SPORTNUUS - Die Suid-Kaap Sages het rede om 'n bietjie breëbors rond te loop na hul prestasies in twee groot nasionale gholftoernooie.
Hul prestasies is meerendeels in spanverband en 'n duidelike bewys dat die gees onder die Suid-Kaap Sages-spelers kerngesond is.
Die Sanlam Sages se nasionale toernooi is van 8 tot 12 April op die Stellenbosch- en Devondale-gholfbane in die Wes-Kaap aangebied. Altesaam 310 spelers van al die streke in die land het deelgeneem. Op 8 en 9 April het die spelers aan 'n beterbalkompetisie deelgeneem, 10 April was 'n rusdag, en op 11 en 12 April is daar individueel en in spanverband in drie afdelings deelgeneem.
Suid-Kaap is verteenwoordig deur 10 spelers, naamlik Walter Diedericks, Davy Roberts, Basie Nortjé, Jaco Swanepoel, Denzil Geldenhuys (almal Riversdal), Chris Barnard, Nic Marais, Stoffel en Breggie Maritz (almal Mosselbaai) en Johan Swart (Stilbaai).
In die beterbalkompetisie oor die eerste twee dae het twee spelers van Mosselbaai, Nic Marais en Chris Barnard, met 'n Stablefordtelling van 86 algeheel tweede gekom.
In die spankompetisie oor die laaste twee dae was dit weer Nic Marais en Chris Barnard wat hul goeie spel voortgesit het om hierdie keer saam met Stoffel en Breggie Maritz 'n derde plek in die B-afdeling te behaal, net een punt agter die wenners.
'n Ekstra bonus vir die groep was die prestasie van Johan Swart van Stilbaai wat in die C-afdeling 'n algehele tweede plek in die individuele kompetisie behaal het.
Vyfhoek-toernooi
Die tweede toernooi, waaraan nege Suid-Kaap Sages-spelers gaan deelneem het, is die sogenaamde "Vyfhoek" wat elke jaar tussen die vyf streke, Suid-Kaap, Oostelike Provinsie, Grens, Kouga en Outeniekwa plaasvind. Hierdie jaar was Kouga die gasheer vir die toernooi op 13 en 14 Mei wat op die pragtige Cape St Francis-gholfbaan plaasgevind het. Sestig spelers het deelgeneem en die wenstreek is bepaal deur die gemiddelde stablefordpunte van al die spelers van die streek in die toernooi. Daar was ook individuele wenners.
Die Suid-Kaap het die Vyfhoek gewen. Hul nege spelers het met 'n gemiddeld van 60,11 stablefordpunte oor die twee dae behoorlik stof in die oë van OP (57,40), Outeniekwa (56,00), Kouga (55,20) en Grens (53,70) geskop.
In die individuele kompetisie het Denzil Geldenhuys van Riversdal op die eerste dag derde gekom met 36 punte en Chris Barnard (36) van Mosselbaai vyfde. Chris behaal ook die algehele vierde plek oor die twee dae met 69 punte. Walter Diedericks van Riversdal kry ook 'n naaste aan die pen op dag 1 en teken 'n spogtwee op dieselfde dag aan.
Nic Marais (links) ontvang die prys namens hom en Chris Barnard vir die tweede plek in die Beterbalkompetisie op die Nasionale Sages-kompetisie van Elfie Alston, nasionale sekretaris van Sages.
Johan Swart ontvang ’n prys vir sy tweede plek in die C-afdeling van Eugene van Vuuren, die organiseerder van die Nasionale Sages-kompetisie op Stellenbosch.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'