Dertien gholf-unies was verteenwoordig, asook twee spelers van Zimbabwe en twee van Dubai. Die Suid-Kaap was die beste verteenwoordig met 52 spelers, gevolg deur Boland en Westelike Provinsie met 21 spelers elk.
Die kompetisie onder die 140 deelnemers was straf en slegs 62 spelers het na Saterdag die afsnypunt oorleef. Die opwinding was groot toe die eerste spelers Sondag om 07:20 afgeslaan het.
Die 36 putjies sou nie net fiksheid toets nie, maar ook vernuf en goeie besluitneming.
Laat Sondagmiddag was die kampioenskap nog wawyd oop, maar die bestendigheid van Ian Snyman van die Westelike Provinsie het aan hom op 278 houe die eer gegee om die trofee omhoog te hou.
Hendrik du Plessis van Limpopo (279 houe) en Nicholas Mitchell (280 houe) was onderskeidelik tweede en derde.
'n Suksesvolle toernooi wat gekenmerk is deur puik reëlings, die voorbereiding van 'n pragtige baan en die Mosselbaai Gholfklub se personeel wat reuse werk verrig het, het ten einde geloop met die seën van 'n heerlike donderbui wat kort na die finale verrigtinge uitgesak het.
Ons moet ook aan ons eie lede baie dankie sê dat hulle bereid was om op ander bane te gaan speel tydens die Suid-Kaap Ope. Julle het bygedra dat ons mooi baan opnuut weer landwyd goeie erkenning gaan kry.
Woensdag, 13 Augustus het 148 spelers aan die vierbal alliansie kompetisie deelgeneem. Aangesien die kompetisie spanwerk uit die boonste rakke verg, moet jy jou spanmaats reg kies. Dit was dan ook die geval met Dudley du Plessis, Kelvin Muller en Ashwell Cameron wat 97 punte aangeteken het en met mooi pryse huis toe is.
Kort op hulle hakke was John Blythe-Wood, Dawn Wessels, Hettie Bruwer en Rachel Mulder op 95 punte. Oosie Oosthuizen, Nico Pienaar, Chris Brits en Roelie Prinsloo se 94 punte was genoeg om die derde plek in te oes.
Suid-Kaap Pare
Spelers moet kennis neem dat op Sondag, 31 Augustus die Suid-Kaap Pare en op Sondag, 7 September die Mosselbaai Ope plaasvind.
Slegs 96 spelers kan in beide toernooie deelneem en daarom moet u betyds inskryf vir hierdie gewilde toernooie.
Wenners van Woensdag, 13 Augustus se vierbal alliansie kompetisie is: Nico Pienaar, Oosie Oosthuizen, Chris
Brits, Dawn Wessels, John Blythe-Wood, Hettie Bruwer, Noël Hudson (president), Kelvin Muller en Dudley du Plessis.
ARTIKEL: GHOLFER
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'