MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Gewoonlik waai die wind in Augustus, maar soos alles in die lewe, is die weer onvoorspelbaar en het ons 'n voorsmakie in Julie gekry van wat ons kan verwag.
Twee weke gelede moes die vroue se weeklikse gholfkompetisie na nege putjies gekanselleer word want die wind het stormsterk gewaai en verlede Donderdag het die vroue in lieflike weer begin speel maar na nege putjies het dit wéér gebeur.
Wind teen so 'n spoed dat die gholfballetjie van die setperk afgewaai is. Dit was vasbyt en tandekners om staande te bly.
Omdat baie van ons vroue verlede week Goose Valley se tuisdag ondersteun het, was ons vroue minder as gewoonlik. Gelukkig was daar genoeg spelers om 'n kompetisie te regverdig en dit te danke aan die hardwerkende en never say die Shirley Greig, wat rondgeskarrel en gesoek het (tot trappies geklim) om genoeg spelers te kry. Welgedaan Shirley – jou entoesiasme word waardeer.
Hoewel dit 'n klein veld was en nieteenstaande die feit dat die wind na 9 putjies verwoestend gewaai het, is uitstekende tellings aangeteken. Blykbaar het Cynthia Zietsman haar min gesteur aan die wind en die pragtelling van 40 punte behaal. Annette Meyer met 37 punte en Rachel Mulder 34. Annamarie Luggen was naaste aan die pen op die 8ste. Welgedaan julle.
Baie geluk aan Dawn Wessels met 'n kolskoot op die 15de putjie op die 10de Julie. Pragtig Dawn ons bewonder jou en lig ons hoed hoog vir jou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'