MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die skote het op Woensdag, 2 Mei vroeg geklap in Bounty Wildsverwerking se borgdag. Hierdie gewilde individuele stablefordkompetisie het weer eens die spelers gedwing om hulle beste skote af te trek.
In die A-afdeling het Jean Borchardt wat deesdae gereeld besoek aflê by die prystafel sy segetog voortgesit en op 39 punte het hy koning gekraai. Gerhard Pool, sekerlik een van die klub se bestendigste spelers, het die B-afdeling op 'n skitterende 42 punte ingeoes.
Die merkwaardige Dirk Swart het op 82-jarige ouderdom sy veel jonger teenstanders in die C-afdeling behoorlik die loef afgesteek met 'n wentelling van 43 punte.
André Bruwer se stewige 40 punte het aan hom die vierde plek besorg, met Bennie Badenhorst en Joos van den Heever, albei op 39 punte, in die vyfde en sesde plekke. Dankie Div vir jou lojaliteit en volgehoue borgskap.
Saterdag
Die gekombineerde stablefordkompetisie wat op Saterdag, 5 Mei plaasgevind het, het vereis dat speelmaats albei goeie gholf speel, aangesien die punte bymekaar getel moes word. Getroue Stormer-ondersteuners, Michal Rehr en Riaan Schenck het vroegoggend afgeslaan en soos die Stormers hulle teenstanders oorrompel.
Die wenners van Bounty Wildsverwerking se borgdag is agter: A Bruwer, B Badenhorst en T Pretorius. Voor: I Wessels, J Borchardt en D Swart.
Hulle wen die kompetisie op 75 punte met Christo Langenhoven en Paul Brits op 74 punte in die tweede plek. Die 73 punte wat Vanthel van Aswegen en Shaun Hermanus, asook P Slabber en F Wium opgebou het, het aan hulle die derde en vierde pryse besorg.
Chris van den Berg en André Zeelie kon op 74 punte ook nog 'n vuurtjie by die huis gaan aansteek.
Winter-uitklopreeks
Die trekking vir die Winter-uitklopreeks (enkels en dubbels) is op die kennisgewingbord. Sorg dat jy betyds jou verpligtinge nakom.
Rita Wienand
Die afgelope week moes die gholfklub ook een van sy geliefde lede groet. Rita Wienand is na 'n skielike hartaanval oorlede. Sy het vir baie jare diep spore in die gholf-administrasie getrap. Sy was onder andere ses jaar kaptein van die vroue-afdeling en het baie jare in provinsiale komitees gedien. In 2008 het sy die eerste vrou geword om president van Mosselbaai-gholfklub te word. Sy was ook 'n gekwalifiseerde gholfreël-beampte.
Haar omgee vir mense, die respek wat sy oral afgedwing het en haar wonderlike humorsin sal nooit vergeet word nie. Rus in vrede, liewe vriendin!
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'