MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Op Woensdag, 15 Augustus is die maandelikse houespelkompetisie soos gebruiklik deur Global Golf met Arrie van der Linde aan die stuur geborg.
Mosselbaai se trots, Martin Vorster (voorgee +4), wat onlangs die eerste Suid-Afrikaanse junior geword het om die gesogte junior ope kampioenskap by St Andrews, Eden-gholfbaan, in Skotland te wen, het met 'n bruto-telling van 66 houe die A-afdeling op 'n drafstap gewen.
In die B-afdeling het André Zeelie ook goeie vorm getoon en op 79 houe het hy koning gekraai. Wayne Mitchell se 87 houe was ook heeltemal voldoende om as kampioen van die C-afdeling gekroon te word.
Verdienstelike tellings in die netto-afdeling is deur die volgende spelers aangeteken: Johan van den Berg (65 houe), asook Roelof Combrinck, Ulrich Steinhobel, Ferdie Jonck en Johan Strauss, almal op 66 houe.
Hartlike dank aan Global Golf vir die duursame pryse wat die pryswenners ontvang het.
Saterdag
Ten spyte van die druk internasionale rugbyseisoen wat afgeskop het, het daar nogtans 136 spelers Saterdag, 18 Augustus hulle toevlug gholfbaan toe geneem om aan die gewilde vierbal alliansie kompetisie deel te neem.
Die vierbal van Attie van Niekerk, Stephen Terblanche, Clinton en Charles Windvogel, het te veel skietgoed vir hulle moedige opponente gehad en op 98 punte het hulle die louere ingeoes.Die jongelinge met Jacques Budricks aan die stuur van sy span bestaande uit Philip Nieuwoudt, Louis Botha en Marco de Kock het op 96 punte na die uittel ook tevrede huiswaarts gekeer. Nog 'n merkwaardige prestasie is behaal toe die 81-jarige Stefanus Cronjé (voorgee 15) 'n bruto-telling van 76 houe aangeteken het. 'n Speler wat in gholf sy ouderdom klop, bereik beslis iets om op trots te wees. Mosselbaai Gholfklub speel komende Saterdag gasheer vir die Suid-Kaap se ligaspanne.
Lede en besoekers moet kennis neem dat die baan gesluit is, maar met vroegtydige besprekings sal ons buurklubs jou met ope arms verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'