MOSSELBAAI NUUS - Wanneer Sprokiesdag, Internasionale Vrouedag en die skoner geslag se gholfkompetisie-dag saamval, word verbeeldingsvlugte die norm.
Vra maar vir Ina Swart wat na 'n blitsige koets gesmag het of Dawn Wessels wat liewer soos Liewe Heksie op 'n besem sou wou vlieg, as om bene-in-die-lug, onder haar gholfstokke te beland.
Dit alles het "troelie" gebeur tydens die vroegoggend se snelste-putjie-gholfkompetise waarin Ina se span nog blitsiger sou presteer het, as haar stadige gholfkarretjie maar in 'n blitsige koets kon verander. Volgens Ina het sy en elke ander spanlid, Chantelle Grard, Ineke Botes en Marita Pienaar sulke puikhoue gelanseer dat die bal vinniger op die setperk geland het as wat Ina vanaf nommer 11 se bof daarheen kon ry. Ondanks dié betreurenswaardige tydverlies het hulle nietemin die vorige rekordtyd van 1 minuut, 42,87 sekondes verbeter na 1 minuut en 35.7 sekondes.
Al wat Jors verneem het oor die aanslag van die span van Leonie de Beer, Dawn Wessels, Laetitia Higgs en Rosie Gerber, is dat Dawn nie ooit weer stok-tussen-die-bene gaan hol nie.
Ook in die kompetsie van die dag, samespel-syferplus, (bonus, bogey) was daar 'n sprokie-element want dit werk so dat 'n merietevolle plus deur 'n negatiewe minus gekanselleer word. Dit herinner Jors sterk aan die vet en maer koeie in die nagmerrie van die Ou Testamentiese Egiptiese koning.
Nietemin was die uitslae so ongewoon gelyk dat daar tussen drie spanne met +7 elk, uitgetel moes word. Die finale uitslae was soos volg: 1. Tertia Mitchell en Sally Taylor; 2. Shirley Pressley en Liesbeth von Biene; 3. Ineke Botes en Marie Smith; 4. Michaela Collins en Elly Rottiger +6. Ina was naaste aan die pen op nommer 12 en Tertia het die enigste spogtweetjie van die dag behaal op nommer 4.
* Die vorige naweek het 'n groot kontingent Mosselbaaise vroue in Robertson se opedag vir vroue meegeding. Christe Marie Meyer en Marina Juta het 'n derde plek verower.
Die Mosselbaai-span, insluitend etlike lede van Pinnacle Point, het weer eens koning gekraai in die spannende setkompetisie.
ARTIKEL: JORS TROELIE
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'