GHOLFNUUS - Denzil Kleu Eiendomme se borgdag op Woensdag, 22 Maart neem steeds toe in gewildheid. Die 184 spelers wat deel gehad het aan die individuele stablefordkompetisie by die Mosselbaai-gholfklub het mekaar opdraand gegee.
Elmar Noppe wat vanaf ‘n ses voorgee speel, het sy vaardighede behoorlik ten toon gestel deur ‘n bruto-telling van 72 houe aan te teken.
Sy 42 stablefordpunte het aan hom ‘n welverdiende oorwinning besorg. Maklik was dit egter nie, want Pierre Botes (voorgee 11) het ook 42 punte aangeteken, maar Noppe het hom in die uittel-proses getroef.
Die vroue kon ook tevrede glimlag, want Hester de Jager se 40 punte het gesorg dat sy met die derde prys huis toe kon gaan. Barend Kotzé (vierde) en Dudley Wooldrigde (vyfde) was ook in ‘n tweestryd gewikkel op 38 punte.
Saterdag
Saterdag, 25 Maart het 176 spelers aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem. Shirley Greig en Attie van Niekerk was onkeerbaar met 47 punte in die sakkie.
Die tweede plek het aan Heinrich Matthee en Joelie Erasmus behoort wat 45 punte daargestel het. Joelie sal die dag lank onthou, want hy het die eerste speler geword wat daarin kon slaag om met sy drywer ‘n ruit van ‘n woonhuis op die Mosselbaai-landgoed flenters te gooi.
Ongelukkig het sy drywer (1-hout) ook nie die ongeluk oorleef nie, Die storie wil dit hê dat die stok uit sy hande geglip het.
Op 43 punte moes die uittel-proses onder drie pare sy loop neem. Michal Groenewald en Jean Borchardt het die beste gevaar en die derde plek ingeneem. Barry Tooth en Noël Hudson, asook Roelof Engelbrecht en André Middel was onderskeidelik vierde en vyfde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’