MOSSELBAAI NUUS - Kolhoue is so skaars soos hoendertande, maar die afgelope maand het drie spelers daarin geslaag om die volmaakte gelukhou te behaal.
In 'n vorige berig in die Mossel Bay Advertiser is reeds melding van Gavin Reynolds se kolhou gemaak.
Op Dinsdag, 15 Februarie het een van die Mosselkrakers op die vierde putjie sy eerste gelukhou behaal. Koot Naudé speel al vir bykans 40-jaar gholf en dit was sy eerste gelukskoot.
Woensdag, 16 Februarie het Denzil Kleu Eiendomme weer hulle maandelikse borgdag aangebied. Stan Panek het behoorlik die individuele stablefordkompetisie oorheers en teken 'n skitterende 43 punte aan.
Bennie Badenhorst het ook weer tekens van sy ou vernuf getoon deur op 41 punte die gewilde naaswenner te wees. Elmar Noppe en Gert Pieterse het op 40 punte om die derde plek baklei, maar die uittel-proses was in Elmar se guns en Gert het vierde geëindig. Wouter Kotzé se 39 punte het aan hom die vyfde plek besorg.
Sakkie Morrison (kolhou op 12de putjie).
Saterdag
Saterdag, 19 Februarie het aan Sakkie Morrison behoort. Nie alleenlik wen hy en ons baanbestuurder, Gavin Coleman, die beterbal stablefordkompetisie op 46 punte nie, maar behaal hy sy sesde kolhou op die moeilike 12de putjie.
Christo Langenhoven en Piet Meyer het ook 46 punte aangeteken, maar na die uittel moes hulle die knie buig. Drie pare, naamlik M van Graan en N van Vuuren, K van Niekerk en M Groenewald, asook G Gagiano en MF Barnard het 45 punte aangeteken en is met heerlike braaipakke beloon.
Spelers word herinner dat die inskrywingslys vir 2022 se Suid-Kaap liga op die kennisgewingbord is.
As jou voorgee indeks tussen 2.5 en 18.9 is, kwalifiseer jy om jou beskikbaar te stel vir die liga.
Skryf in manne, ons het 'n trotse rekord in die liga.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'