GHOLFNUUS - Die winter-uitklop kampioenskappe is besig om momentum te kry met Chris Barnard en Gert Pieterse, asook Gert Brink en Craffie Crafford wat reeds tot die kwarteindronde deurgedring het en binnekort sal weet wie hulle opponente in die halfeindstryde gaan wees.
In die enkel-spelle loop die opwinding hoog met Gert Pieterse as die volslae gunsteling om tot die eindstryd deur te dring.
Hy kom egter in die halfeindronde teen die talentvolle Maurice Bernado te staan en sal beslis behoorlik getoets word. In die ander halfeindronde pak twee ervare manne, Sakkie Morrison en Karools Hauptfleisch mekaar en dit beloof om 'n stryd tot die bittereinde te wees.
Woensdag
Woensdag, 16 November het Denzil Kleu Eiendomme die gholfspelers weer terdeë getrakteer. Die manne het mekaar behoorlik opgekeil in die individuele stablefordkompetisie en op 40 punte moes die uittel-proses die wenner bepaal.
Roelof Engelbrecht het sy neus voorgekry en Pieter Venter was die naaswenner. Die gesoute Dawid Gerber het ook 40 punte aangeteken en hy het die podium in die derde plek betree. Mosselbaai-gholfklub se klubkaptein, Michael Rehr, se 39 punte het hom die vierde plek besorg en Karools Hauptfleisch, ook 39 punte, kon ook nog in die pryse deel. Dankie Denzil vir jou lojale en getroue ondersteuning gedurende die jaar.
Saterdag
Die 190 spelers wat Saterdag, 19 November mekaar die stryd aangesê het in die individuele stablefordkompetisie, het Mosselbaai se heerlike
weersomstandighede ten volle geniet en dit het gehelp om die dag 'n aangename ervaring vir 'n ieder en elk te maak. Met die baan wat in 'n puik toestand is, het die spelers goeie tellings aangeteken.
Erick Barkhuizen het op 39 punte koning gekraai met Johan Spangenberg (38 punte) die naaswenner. Gert Pieterse, André Verwey en Gail Botha, almal 38 punte, het die derde tot die vyfde plekke gevul. Ook Sean Klingsick (37 punte), Ronnie Lourens en Hester de Jager (36 punte) asook George Ferns (35 punte) kon ook die prystafel besoek.