MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Donny Smith het in die afgelope paar jaar wat hy lid van Mosselbaai-gholfklub is, reeds diep spore getrap. Hierdie 56-jarige speler het die afgelope drie jaar die Mosselbaai senior klubkampioenskappe oorheers deur elke jaar as kampioen gekroon te kon word. Die jongste toevoeging tot sy reeds
merkwaardige gholfloopbaan is sy oorwinning twee weke gelede op George in die Suid-Kaap senior ope. Dit was sy vierde senior ope titel oor die laaste paar jaar. Veels geluk, ons is trots op jou!
Woensdag
Bounty Wildsverwerking se borgdag op Woensdag, 6 Junie het weer eens aan al die verwagtinge voldoen. Divvie de Villiers van Bounty Wildsverwerking kan met reg trots wees op hierdie borgdag wat hy maandeliks aanbied. In die A-afdeling (voorgee 0-13) het Chris van den Berg op 42 punte koning gekraai.
Die B- en C-afdelings is onderskeidelik deur Jannie Lourens (43 punte) en Joan Zietsman (35 punte) gewen. Die volgende spelers is ook met heerlike vleispakke van Bounty Wildsverwerking beloon: G van Zyl (38 punte), G Combrinck, R Engelbrecht, G Pool, almal op 37 punte. A Middel en E Scheepers se 36 punte het gesorg dat hulle ook nie met leë hande huis toe is nie.
Saterdag
Saterdag, 9 Junie het die spelers die heerlike weersomstandighede terdeë geniet en die gewilde vierbal alliansie-kompetisie goed ondersteun. Die spanwerk van Stephen Terblanche, Lood Loubser, Attie van Niekerk en Louwtjie Louw (94 punte) was net een te veel vir hulle teenstanders. Op 93 punte het M Rehr, C Ascencao, G Middel en C van Noordwyk die tweede plek ingeneem.
Lede en besoekers moet daarop let dat ons jaarlikse Modderfontein Trust-borgdag op Saterdag, 23 Junie sal plaasvind. Porrie Potgieter is die getroue borg van hierdie dag. Heerlike kerrie en rys sal aan die spelers voorgesit word. Die pragtige Modderfontein-trofee, asook goeie pryse sal aan die beste presteerders van die dag oorhandig word.
Die stryd om as gholfspeler van die jaar gekroon te word is fel. Statisties gesproke is daar basies nog net vyf spelers wat aanspraak maak op hierdie titel.
JJ Joubert (32 punte) is die gunsteling, maar Jean Borchardt (28 punte) blaas hard in sy nek. Gert Pieterse (24 punte), Arrie van der Linde en Werner Bekker, albei op 23 punte, het nog 'n buite kans om te verras met nog twee geleenthede om punte in te samel.
Wenners van Bounty Wildsverwerking se dag is van links, agter: E Scheepers, J Lourens en A Zeelie. Voor: C van den Berg, A Middel en R Engelbrecht.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'