TUINROETE NUUS - Die sakemanne se geborgde dag wat elke laaste Woensdag van die maand plaasvind, bly maar een van die gewildste dae. Woensdag, 30 Januarie het nie minder as 192 spelers baan toe gestroom om mekaar die stryd aan te sê.
Uitmuntende tellings is in die beterbal stableford kompetisie aangeteken.
Hendrik oftewel Simson Kriek het gedeeltelik van sy welige bos hare en baard ontslae geraak en die feit beklemtoon dat sy krag beslis nie in sy hare sit nie. Saam met sy maat, André van Wyk, stapel hulle 'n onaanvegbare 54 punte op wat aan hulle loshande die beroemde, of in hulle vriende se oë, "berugte" wenners maak. Gert Pieterse en Koos Snyman het ook hewig teenstand gebied en op 51 punte het hulle gemaklik in die tweede plek geëindig.
Die volgende spelers het ook ruim deel gehad in die heerlike vleispryse wat deur die sakemanne voorsien is: G Engelbrecht en E Barkhuizen (49 punte), S Olivier en A Lambrechts (47 punte), A Maarschalk en A Middel (46 punte) en M du Preez en S du Plessis (45 punte). Baie dankie Michal Rehr en Wouter Kotzé vir julle aandeel om maand na maand so 'n reusesukses van die dag te maak.
Saterdag
Gure weer het Saterdagoggend, 2 Februarie, die spelers behoorlik beproef. Die vierbal alliansie-kompetisie is nogtans goed ondersteun. Dit wil voorkom of die vroue beter toegerus is teen moeilike weersomstandighede, want op 86 punte het Tracey Venter, Gail Botha, Gloria Greyvenstein en Shirley Greig as oorwinnaars uit die stryd getree.
Die twee merkwaardige 88-jariges, George Sadowski en Neels Mostert, het saam met hulle maats Roelof Combrinck en Eugene Duthie die oggendtoestande goed hanteer en het na die uittel op 86 punte die tweede plek ingeneem. Welgedaan manne.
Die wenners van die sakemannedag is van links, agter: M du Preez, H Kriek, E Barkhuizen, K Snyman, G Pieterse, S du Plessis en N Walvaren Voor: M Self, G Engelbrecht, A van Wyk en G Pieterse.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'