GHOLFNUUS - Verlede week is ons geseën met die sluise van die hemele wat behoorlik oor ons streek oopgemaak is.
Moeder aarde het gulsig elke druppeltjie opgeslurp en die droë grassies het vinnig verander in ‘n grasgroen tapyt so ver as wat die oog kan sien.
Dit was die eerste keer in baie jare dat die Mosselbaai-gholfbaan vir ‘n dag lank gesluit is en spelers nie op die deurweekte baan kon speel nie.
Die maandelikse Sakemanne-dag kon dus nie Woensdag, 31 Mei, plaasvind nie, maar almal het gejuig oor die mildelike reën wat ontvang het.
Saterdag
Saterdag, 3 Junie, was ‘n groot aantal spelers reeds van vroegoggend af op die baan om aan die beterbal houespelkompetisie deel te neem.
Die spelers het mekaar geen genade betoon nie. Drie pare het op 66 houe geëindig. Die uittel-proses het sy loop geneem en Henri Malan en Guy Wiltgen is as oorwinnaars aangewys.
Die naaswenners was Terry en Dean Otto (66 houe) met Eddie Geffen en Dave Steward in die derde plek. Twee ou karperde, Joe Luggen en Martiens Mulder, se 67 houe het aan hulle die vierde plek besorg. Nick van Noordwyk en Etienne van Zyl se 67 houe het vir hulle die vyfde posisie verseker.
Senior klubkampioenskappe
Die Ou Mutual senior klubkampioenskappe vind Sondag plaas. Van die inskrywings wat reeds ontvang is, blyk Chris van den Berg (voorgee 2) die vroeë gunsteling te wees, maar spelers soos Gavin Reynolds, Karools Hauptfleisch, Sakkie Morrison en Wiekus Pretorius sal dit beslis nie vir hom maklik maak nie.
Junie het aangebreek en spelers wat ingeskryf het vir die winter-uitkloptoernooi moet sorg dat hulle die eerste ronde voor einde Junie afhandel. Geen uitstel vir wedstryde sal toegestaan word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’