MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Dit is verblydend en bemoedigend om te sien dat toergroepe weer soos van ouds al meer en meer die Mosselbaai-gholfbaan besoek.
Donderdag, 16 September het ‘n groep van 92 spelers uit die Wes-Kaap die baan besoek en hulle dag terdeë geniet.
Groepe van 8, 12 en 16 spelers het gedurende September op ‘n gereelde basis hierdie mooi baan besoek.
Die groot aantal besoekers dra dan ook ruim by tot die rekord aantal rondes wat maandeliks op die klub se statistieke aangedui word. Welgedaan aan die algemene bestuurder, Graeme Viljoen en sy personeel wat deurentyd sorg dat die lede en besoekers vreugdevolle tye by die klub deurbring. Die puik toestand waarin die baan verkeer verg harde werk en Gavin Coleman (baanbestuurder) en sy span verdien beslis ‘n veer in die hoed vir die puik toestand van die baan.
Woensdag
Woensdag, 15 September het Denzil Kleu Eiendomme weer ‘n heerlike borgdag aangebied. Die 144 spelers het mekaar behoorlik opgekeil in die individuele stablefordkompetisie. Die louere is deur Seger du Plessis (voorgee 5) ingeoes, maar hy moes al sy talente uitstal om ‘n onaanvegbare brutotelling van 69 houe (44 punte) daar te stel om as die trotse wenner van die dag se kompetisie gekroon te word. Kort op sy hakke was ‘n besoeker en naaswenner, Andrew Williamson (voorgee 12), met 43 punte. Die volgende spelers het derde, vierde en vyfde geëindig: Nico Bernardo (40 punte), Rouxwy van Wyk en Thys Pelser, albei op 39 punte.
Saterdag
Saterdag, 18 September se toetsrugby het die spelers beslis nie van die baan gehou nie. Die 152 spelers wat opgedaag het om aan die individuele stablefordkompetisie deel te neem se entoesiasme het selfs die winderige toestande oortref. Die ou strydros, Gert Pieterse, het weer eens sy opponente getroef en op 39 punte was hy die oorwinnaar nadat die uittelproses in sy guns beklink is.
Alfred du Plessis en Hennie Klopper se 39 punte het aan hulle die tweede en derde plekke besorg. Die volgende spelers is ook nie met leë hande huis toe nie: M Bernardo (38 punte), C de Villiers (36 punte), N Domingo en R van Wyk (albei 35 punte) en P Good op 34 punte.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'