MOSSELBAAI GHOLF NUUS - 'n Totaal van 144 spelers het op Woensdag, 2 Oktober hulle opwagting by Mosselbaai-gholfklub gemaak om deel te wees van Bounty Wildsverwerking se gewilde borgdag.
Verdere kleur is aan die dag verleen toe Louis Oosthuizen ook sy besonderse gholftalent op die baan kom vertoon het.
In die A-afdeling van die individuele stablefordkompetisie het Seger du Plessis (voorgee 2) daarin geslaag om Louis Oosthuizen (voorgee +5) te troef deur die uittel op 42 punte te oorleef. Louis het slegs 61 houe nodig gehad om sy rondte te voltooi.
Stefan van Vuuren was in die B-afdeling te sterk vir sy moedige opponente en op 42 punte het hy breed geglimlag. Cheryl Tooth het in die C-afdeling die mans ore aangesit toe sy met 'n uitstekende telling op 42 punte koning gekraai het. Divvie de Villiers van Bounty Wildsverwerking het gesorg dat die volgende spelers ook prystafel toe kon stap: L Oosthuizen (42 punte), J Lourens (41 punte), asook T Jansen van Vuuren, B Vermeulen, M Samboer en E Scheepers, almal op 40 punte.
Saterdag
Die beterbal stablefordkompetisie wat op Saterdag, 5 Oktober plaasgevind het, het 128 spelers baan toe gelok. Twee veterane, Emil Kaltenbrunn en Pieter Barnard, het na die uittelproses op 62 houe die septer geswaai.
Pat Good en Wayne Mitchell, asook Paul Gouws en Gerhardus Pool, Clive Kaptein en Kass Muller, het die tweede tot vierde plekke na die uittel proses gevul. Selfs Karools Hauptfleisch en JJ Joubert het op 63 houe ook 'n vleisie vir Sondag se braai gewen.
Met die heerlike reën wat geval het en die hollowtine van die setperke, beloof die baan om gou-gou weer 'n volslae genot te wees om 'n rondte gholf saam met vriende, kennisse en besoekers te deel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'