MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Na 'n besige seisoen is dinge vinnig besig om na normaal terug te keer.
Verblydend om te sien hoeveel oorsese besoekers (sogenaamde swaeltjies) elke dag by die klub opdaag. Ons vertrou dat hulle weer eens 'n wonderlike en geseënde tyd hier in die Suid-Kaap sal beleef.
Christo Langenhoven (raadslid) het gesorg dat 2019 vir hom op 'n hoë noot afskop. Woensdag, 9 Januarie het Bounty Wildsverwerking hulle maandelikse geborgde dag aangebied en Christo het op die moeilike 12de putjie (181 meter) 'n volmaakte gelukhou behaal.
Die individuele stablefordkompetisie het uitstekenende tellings na vore gebring. Seger du Plessis (voorgee 3) het behoorlik sy gholf-talent ten toon gestel deur net 66 houe te gebruik om sy rondte te voltooi. Hy was dan ook die wenner van die A-afdeling met 'n skitterende 44 punte. Ina Swart het die vroue se naam hoog gehou deur die B-afdeling op 40 punte in te palm.
Een van ons nuwe jong spelers, Tyron John, is ook vinnig besig om sy voete te vind. Op 40 punte was hy 'n gewilde wenner van die C-afdeling.
Van die ouer garde in ons klub het ook hulle stemme luid verhef. Ferdie Jonck, Dawid Gerber, Wouter Kotzé en David Bourhill se 39 punte het gesorg dat hulle nog ruim kon deel in Bounty Wildsverwerking se heerlike vleispryse. Selfs Erick Barkhuizen en Gordon Engelbrecht se 38 punte het hulle ook prystafel toe laat stap.
Saterdag
Saterdag, 12 Januarie het 156 spelers aan die beterbal syfer plus kompetisie deelgeneem. Attie van Niekerk en Stephen Terblanche se vuurwarm gholf het gesorg dat hulle die afgelope maand reeds drie eerste plekke in ons kompetisies behaal het. Saterdag het hulle op +12 geëindig en gemaklik die eerste plek ingeneem. Twee van ons buitelede van Robertson, Johan en Ena Stipp, het na die uittel op +10 die tweede plek ingeneem. Kelvin Muller en Ashwell Cameron (+10) was derde, gevolg deur D Steyn en T John (+9), asook R Smit en sy spookmaat, ook op +9.
Spelers word versoek om vertroud te raak met die veranderinge aan die gholfreëls wat op 1 Januarie 2019 in werking getree het. As jy enige onsekerheid oor die reëls het, is Albert Jordaan se vriendelike hulp en bystand tot jou beskikking.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'