MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die ware toets vir 'n gholfspeler se vermoëns word slegs weerspieël in houespel.
Hoë eise word nie net aan 'n speler se natuurlike talent gestel nie, maar goeie besluitneming, geduld en 'n kalm temperament kan alleenlik tot sukses lei. 'n Speler met al hierdie eienskappe is Seger (Stix) du Plessis.
Op Woensdag, 10 April het hierdie talentvolle speler korte mette van sy teenstanders gemaak deur koelkop te bly en vanaf 'n 1 voorgee slegs 63 houe aan te teken om met gemak sy meesterskap te bewys.
In die netto-afdeling het David Bourhill (voorgee 10) sy staal getoon en op 69 houe was hy die wenner. Kort op sy hakke was Anton Botes (voorgee 20) op 70 houe. Tyron Jansen van Vuuren (voorgee 8), Chris van den Berg (voorgee 4) en Hilton Duminy (voorgee 9) het op 71 houe ook nog prystafel toe gestap.
Saterdag
Saterdag, 13 April het vereis dat die langslaners groot aanpassings moes maak, aangesien elke speler verplig was om vanaf die rooi (voorste) bowwe af te slaan. Die vierbal alliansie het goeie spanwerk vereis en die gedugte span van Clive Kaptein, Kelvin Muller, Anthony Evertse en CP Coetsee was in 'n verwoestende bui en op 100 punte het hulle die ander spelers ver in die duister gelaat.
Die moedige poging van Tyron John, Jaco Groenewald, Louis Botha en hulle spookmaat het aan hulle die tweede plek besorg op 89 punte.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'