Christo Langenhoven en sy span sakemanne se getroue bydrae om van hierdie dag 'n sukses te maak, verdien baie lof. Mosselbaai Gholfklub is bevoorreg om so 'n groep lojale sakemanne by ons klub as lede en vriende te hê.
In die A-afdeling het Alwo Dercksen en Adriaan Maarschalk die beterbal stableford kompetisie op 'n drafstap op 47 punte gewen. Derek van Heerden en Johan Strauss het na die uittel op 45 punte tweede geëindig, met Bertu en Marco Nel in die derde plek.
Ricus Serfontein en Johannes Roux was behoorlik op hulle stukke en wen die B-afdeling op 'n skitterende 49 punte.
Om die tweede plek was daar 'n titaniese stryd tussen die span van Gail Botha en Gloria Greyvenstein (48 punte) en Louw Strydom en Linchen Wessels. Eersgenoemde het na die uittel tweede geëindig.
Die C-afdeling is deur Boet Pheiffer en Brian Power op 45 punte gewen. Die tweede en derde plekke is onderskeidelik deur Annette Meyer en Magda Griesel (44 punte) en André en Cynthia Zietsman (44 punte) gewen.
Sanlam Kankerdag
Die Sanlam Kankerdag wat op Donderdag, 1 Mei plaasgevind het, is goed deur ons lede ondersteun. In die A-afdeling het Hendrik Kriek koning gekraai op 'n stewige 40 punte. Gavin Reynolds en Dawid Wandrag se 39 punte het aan hulle die tweede en derde plekke besorg.
Die B-afdeling is deur 'n buitelid, Morné Nel, op 39 punte gewen.
B Venter (37 punte ) was tweede, met Kosie Otto (36 punte) in die derde plek. Mike de Villiers het dubbel seker gemaak om na die volgende ronde te vorder, deur 'n formidabele 42 punte in die C-afdeling aan te teken. Gabriël Smith (38 punte) was tweede en Wessel Pieters (35 punte) derde.
Die Afdeling-wenners speel later vanjaar op George in die volgende ronde en die wenners daar sal kwalifiseer om in Sun City aan die finale ronde te gaan deelneem.
Saterdag
Saterdag, 3 Mei het Mosselbaai Gholfklub self as borg opgetree en die tafel was gedek met pragtige pryse. Pryswenners sal van nou af prysuitdelings moet bywoon om hulle pryse te ontvang.
Jaco Erasmus se 37 punte was genoeg om die A-afdeling te wen. André Wessels en Danie van Langelaar het op 35 punte tweede en derde geëindig.
Wessel Brand was behoorlik aan die brand, deur 40 punte in die B-afdeling aan te teken. Nico Pienaar was nie ver agter op 39 punte nie en het verseker dat hy die tweede plek inneem.
Dawid Venter (36 punte) was derde.
Gert Pieterse was baas in die C-afdeling met 39 punte. Gabriël Smith se 38 punte het hom tweede laat eindig, met die 82-jarige George Sadowski op 37 punte in die derde plek.
Nog goeie nuus vir ons besoekers is dat u vanaf 1 Mei tot 31 Augustus op nie-kompetisie dae teen 'n bekostigbare fooi van R250 per persoon ons mooi baan kan geniet. Bogenoemde fooi sluit 'n gholfkarretjie in met dien verstande dat u speelmaat dit met u deel.
Ons wag vir u Vrydagaand by ons gelukkige trekkings.
'n Heerlike gholfweek word u almal toegewens!
Hierdie gholfspelers het ook almal pryse gewen tydens die Sanlam Kankerdag (agter:) G Sadowski, G Smith, A Wessels en N Hudson. Voor: N Pienaar, G Pieterse, J Erasmus en D van Langelaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'