MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die wenresep vir 'n samespel-stablefordformaat bly steeds 'n geheim na die vroue se jongste kompetisie. Almal weet die eerste, belangrikste, onbestuurbare bestanddeel is 'n gelukkige swaelstertverloop.
Maar wat van die samestelling van die speelmaats? Die algemene uitgangspunt is dat 'n lae voorgee gekoppel met 'n hoë voorgee, die beste kans op sukses het. Gegee natuurlik dat albei spelers min of meer hul voorgeë handhaaf, met 'n vierpunter of twee deur die hoë voorgee as bonus, of selfs 'n boerpot van vyf punte.
Marina Juta (voorgee 15) en Catherine Bell (voorgee 26) het skoonskip van die vroue se kompetisie gemaak met drie punte meer as hul naaste teenstaanders.
Hul gesamentlike voorgeë van 41 is wel heelwat laer as die gesamentlike voorgeë van die spelers in die tweede en derde plekke. Maar die span wat vierde gekom het, se gesamentlike voorgeë van 33 is weer die helfte minder as dié van die twee spanne net bokant hulle én ook agt minder as dié van die algehele wenners.
Wat hieruit afgelei kan word, bly vir Jors troelie net so duister as Nostradamus se voorspellinge. Liggewende afleidings, sommer oor albei, sal verwelkom word.
Al wat oor die afgelope kompetisie bo alle twyfel gekonstateer kan word, is dat niemand breër geglimlag het by ontvangs van haar pryse as Catherine Bell nie. (Maar die uwe wonder tog, was daardie skitterwit, Skotse glimlag oor die goeie gholf of die groot geld?)
Veels geluk ook aan die ander (meer bedeesde) pryswenners. Almal het presteer danksy of ondanks daardie ontwykende wenresep.
Volledige uitslae: 1. Marina Juta en Catherine Bell 49; 2. Shirley Greig en Liesbeth van Biene 46; 3. Drini Kuhn en Cheryl Tooth 46; 4. Christe Mari Meyer en Corné Marais 44.
Naaste aan die vlag op nommer 4: Catherine; spogtweetjies: Catherine (nommer 4), Christe Mari (nommers 4 en 8).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'