MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die 160 spelers wat Woensdag, 28 Julie aan die Sakemannedag deelgeneem het, se vernuf is terdeë op die proef gestel in die gekombineerde stablefordkompetisie.
Michael Kriel (voorgee 12) het die baan behoorlik getem deur ‘n bruto-telling van 77 aan te teken.
Die talentvolle junior, Kass Muller, het sy maat goed ondersteun en gesamentlik eindig hulle op 79 punte om sodoende die kompetisie loshande te wen. Gerhard Pool en Louis Rossel se 74 punte het hulle as naaswenners die podium laat bestyg.
Daar is entoesiasties om die oorblywende plekke baklei, maar Nico Bernardo en Arthur Percival het net-net die derde plek op 71 punte voor hulle geesdriftige opponente opgeraap.
Die volgende spelers het op 69 punte geëindig en het in die volgorde geëindig: Chris van den Berg en André Zeelie, Sakkie Morrison en Jan Gelderman en Chris Barnard en Gerald Glover.
Baie dankie aan al die sakemanne wat elke laaste Woensdag van die maand so getrou hulle ondersteuning aan die Mosselbaai-gholfklub toon.
Saterdag
Saterdag, 31 Julie was die Mosselbaai-gholfklub in die bevoorregte posisie om hul fasiliteite vir die Suid-Kaap Gholfunie beskikbaar te stel. Dertien ligaspanne het die klub besoek en het mekaar behoorlik opdraand gegee in die verskillende wedstryde. Baie van die klublede het elders gaan speel aangesien hier as gevolg van die liga geen kompetisie plaasgevind het nie.
Julie
‘n Koue Julie het gekom en gegaan, maar by Mosselbaai-gholfklub het die soms gure weer weinig uitwerking op die begeesterde gholfspelers gehad. Die aantal rondtes tot dusver vir 2021 staan reeds op 27 400 met ‘n rekord aantal rondtes van 3 688 vir die afgelope Julie.
Dankie aan elke speler dat ten spyte van die Covid-19-swaard wat oor ‘n ieder en ‘n elk se kop hang, die gholfklub nog steeds as toevlug gebruik word om van negatiewe denke ontslae te raak.
Die eerste been van die Winter-uitklopkampioenskappe is voltooi, maar spelers moet daarop let dat die volgende ronde teen einde Augustus voltooi moet wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'