MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die heerlike opvolg-reëntjie wa goud werd, maar mistige weer het die afgelope paar dae die speeltoestande op die Mosselbaai-gholfbaan bemoeilik, maar dit het nie verhoed dat hordes lede en besoekers lustig die stokke kom swaai het nie.
Ons sogenaamde swaeltjie-lede laat hulle geensins onderkry deur weersomstandighede nie en geniet elke dag asof dit die heerlikste dag is.
Sakemannedag
Woensdag, 29 Januarie het die gewilde sakemannedag 172 spelers hulle sorge laat vergeet en heerlike samesyn met vriende en besoekers was aan die orde van die dag.
Die gekombineerde stablefordkompetisie het strawwe mededinging tot gevolg gehad. Om die wenners te bepaal moes daar van die uittelstelsel gebruik gemaak word.
Gareth Shippen en Theo Scheepers het die valbyl oorleef en op 79 punte was hulle die kampioene van die dag.
Die ongelukkige slagoffers van die uittel-proses was veteraan Ferdie Jonck en sy entoesiastiese maat, Hein van Niekerk. Soos so dikwels in die verlede het die gevaarlike kombinasie van André van Wyk en Hendrik Kriek op 78 punte die derde plek ingeneem.
Die volgende spelers is ook met heerlike braaipakke huis toe: Colin Bock en Francois van Zyl (76 punte), Hennie Botha en Joan Zietsman (73 punte), asook Francois de Villiers en Bernard Liebenberg (73 punte).
Die nimlike Oosie Oosthuizen en sy gewilde diep denker maat, Anton Steenkamp, was ook die trotse wenners van die gesogte most golf-titel. Hartlike dank aan ons sakemanne-vriende wat maand na maand hierdie dag moontlik maak.
Saterdag
Op Saterdag, 1 Februarie het 164 spelers heerlike weersomstandighede geniet. Michael Kriel en Anthony Evertse het die beterbal syferplus kompetisie op 'n skitterende +15 gewen. Kort op hulle hakke was Clive Kaptein en Brown Vorster op +14. Ons gewilde en bekwame klubkaptein, Michal Rehr en sy maat, Gordon Engelbrecht, het hulle goed van hulle taak gekwyt en op +11 het hulle derde geëindig. Hilton Duminy en Dawie de Beer (+11), asook Eric Barkhuizen en Wade Viljoen (+9), is ook as gelukkige pryswenners huis toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'