SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Sages se voorsitter, Grove Koch, het verlede jaar onderneem dat die Suid-Kaap Sagestak in 2018 'n spesiale poging gaan aanwend om meer geld vir Kansa bymekaar te maak as ooit tevore. Sy visie het Maandag, 10 September waar geword toe Suid-Kaap Sages op hul jaarlikse Sanlam Kansa-gholfdag 'n bedrag van R14 000 bymekaargekry het om aan Kansa te oorhandig. Dit teenoor die skamele R5 000 plus van laasjaar.
Met so 'n grootse poging het daar baie faktore saamgewerk om alles te laat realiseer. Die Suid-Kaap Sages het van verlede jaar af by elke bymekaarkoms 'n aparte lootjiepoging gehad om spesifiek hul Kansa-poging te sterk. Dan speel die Mosselkrakers van Mosselbaai ook 'n groot rol in die Sanlam Kansa-gholfdag wat Sages aanbied deur in groot getalle die dag te kom ondersteun. In totaal was daar 86 Sages en Mosselkrakers.
Mosselbaai-gholklub staan goedgunstiglik 'n groot deel van hul baanfooie ook af aan Kansa op die gholfdag. Drie gholfklubs, Mosselbaai, George en Goose Valley, het boonop ook 'n gholfpakket aan die dag geskenk wat vendusie-wys opgeveil is om verder die fondse te sterk. JC Slagtery se
Anton Swart van Riversdal ondersteun ons altyd met twee worspryse vir die naaste aan die penne. Koos van Rensburg van Riversdal het die veiling hanteer van die gholfpakette. Al die spelers wat kom meeding dra uit die aard van hul inskrywings ook by, en dan is almal se harte en beursies ook natuurlik oop met verdere bydraes soos lootjies en met die veiling. Sanlam self sit die spreekwoordelike kersie op die koek deur die Kansadag se pryse te borg in drie afdelings.
"Aan al hierdie rolspelers 'n groot dankie vir 'n grootse poging. Ek kan nie nalaat om vir Chris Barnard, die Sagesverteenwoordiger van Mosselbaai, spesiaal te bedank vir al sy reëlings nie, asook vir die spesiale poging wat hy aangewend het om die gholfpakette te kry en 'n ooreenkoms te beding met Mosselbaai-gholfklub wat almal sou pas nie. Baie dankie ook aan die Mosselbaai-gholfklub vir die gebruik van hul fasiliteite en die voorbereiding van die baan. Dis voorwaar 'n baan om op trots te wees.
"Minette van Zyl, die Kansa-verteenwoordiger van die streek, verdien 'n klop op die skouer vir al haar harde werk om ook die dag spesiaal te maak. Sy is die skakel met Sanlam, sy reël 'n dokter om die spelers gratis te kom toets vir velkanker en sy lig almal in waar die gevaarligte vir verskeie soorte kanker by spelers begin flikker.
"In dieselfde asem moet ons dan ook die dokter, Leon van Schalkwyk, bedank vir die moeite wat hy doen om sy masjien vir die velkankertoetse saam te bring. Minette, baie dankie en alle sterkte met die groot werk wat jy en Kansa doen om mense bewus te maak van die gevare en ook om deur middel van die fondse mense by te staan in die behandelingsproses. Jou entoesiasme en passie vir jou werk is 'n inspirasie vir baie om jou."
Die 86 spelers is in drie groepe ingedeel volgens hul voorgees en in die individuele stableford-kompetisie het die volgende spelers die beste gevaar:
A-afdeling: 1. Lionel du Plessis (Mosselkraker) 40; 2. Steve Schoeman (Mosselkraker) 36; 3. Leon van Schalkwyk (Boggomsbaai Sages) 35.
B-afdeling: 1. Nic Marais (Mosselbaai Sages) 39; 2. Barend van den Berg (Stilbaai Sages) 35; 3. Wessel de Bruin (Stilbaai Sages) 34.
C-afdeling: 1. Eddie Jenkerson (Mosselkraker) 38; 2. Breggie Maritz (Mosselbaai Sages) 36; 3. Wessel Pieters (Mosselkraker) 35.
Naaste aan die penne is gewen deur Gielie de Swardt van Riversdal op 4, Eddie Jenkersen op 8, Gert van Rooyen van Mosselbaai op 12 en Thys van Staden van Mosselbaai op 15.
Spogtwees is behaal deur Eddie Jenkersen, Koos van Rensburg, Dave Gravett, Chris van der Berg, Barry Tooth, Cassie Swanepoel en Gert van Rooyen met twee van hulle.
Die volgende Sagessaamtrek is 'n vierbal alliansie op 9 Oktober op Boggomsbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'