MOSSELBAAI NUUS - By die laaste Sagesbyeenkoms van die jaar ding die spelers in 'n individuele stablefordkompetisie teen mekaar mee om die wenner van die Bertus Louw-trofee te bepaal. Die wenner word dan beskou as die enkelskampioen van Sages vir daardie jaar.
Hierdie jaar het dié kompetisie op 28 November op Heidelberg plaasgevind en die wenner en kampioen vir 2017 is Dawie le Roux van Heidelberg. Dawie was nou die dag op die voorblad van Die Burger, maar dit was om minder aangename redes. Sy pa en ma is op Struisbaai aangeval.
Gelukkig het hulle darem taamlik ongedeerd uit die aanval weggekom, hoewel die trauma op hulle en ook die res van die familie uit die aard baie groot is. Dawie, baie geluk met jou prestasie op die gholfbaan.
Jaarvergadering
Die Heidelbergbyeenkoms het ook gedien as die afsluiting vir die jaar vir die Suid-Kaap Sageslede en dit het gepaardgegaan met 'n algemene jaarvergadering, 'n jaarverslag deur die voorsitter, Grove Koch, en 'n heerlike bord eetgoed. Op die jaarvergadering is die dieselfde bestuur herkies, behalwe vir die verteenwoordiger van Heidelberg, Jacques Becker, wat na baie jare se diens besluit het om die tuig neer te lê.
Jacques, baie dankie vir jou onbaatsugtige hulp oor al die jare. Dit word opreg waardeer.
Neels Lourens sal in die toekoms Heidelberg se verteenwoordiger wees. Grove het in sy jaarverslag sy dank uitgespreek teenoor al die lede wat ons byeenkomste flink ondersteun en tegelykertyd ook 'n volledige verslag gelewer oor al die gebeure en uitslae van 2017. Grove, baie dankie vir jou leierskap.
Dit is altyd lekker om die Heidelberg-gholfklub te besoek. Nie net is dit 'n pragtige baan nie, maar die ontvangs is ook altyd van die hoogste gehalte. Baie dankie aan die bestuur van Heidelberg vir die beskikbaarstelling en voorbereiding van die baan.
Dankie ook aan Jacques Becker vir al die organisasie rondom die dag. Dankie ook aan almal wat bygedra het tot die pryse wat die dag gewen is. Julle is 'n agtermekaar klomp mense.
Wenners op Heidelberg, Walter Diedericks, Dawie le Roux, Dave Gravett en Grove Koch (voorsitter).
Uitslae
In die IPS-kompetisie het 'n besoeker, Walter Diedericks van Heidelberg, die beste gevaar met 43 punte. Dawie le Roux, ook van Heidelberg, was tweede en is sodoende dan ook die wenner van die Bertus Louwtrofee.
Die ander spelers wat die beste gevaar het, was: 3. Dave Gravett (Stilbaai) 40, 4. Wessel de Bruyn (Stilbaai) 38, 5. Cassie Swanepoel (Boggomsbaai) 38, 6. Gary Ristow (Riversdal) 38, 7. Colin Sharwood (Riversdal) 38, 8. Buks Reynders (Mosselbaai) 36.
Die naaste aan die penne is gewen deur Ricky May van Stilbaai op 4/13 en Grove Koch van Riversdal op 7/16.
Baie dankie aan JC Slagtery vir die borg van die worspryse vir die naaste aan die penne, ook vir hul bydrae by al ons byeenkomste gedurende die jaar!
Baie seën en voorspoed aan al ons lesers vir die komende Kerstyd. Volgende jaar skop die Suid-Kaap Sages af met 'n beterbalkompetisie op Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'