MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Sages 'n baie suksesvolle afskop vir 2022 gehou toe 52 spelers op Dinsdag, 18 Januarie by die Boggomsbaai-gholfklub vir 'n 4BBB-stablefordkompetisie opgedaag en ongeag die tierende suidwester steeds goeie spel opgedis het.
Dis aangenaam om ook te kan berig dat een van ons oudste lede, Pieter Vaughan van Mosselbaai op 90-jarige ouderdom kom saamspeel en hom deeglik laat geld het.
Die spelers is vroegoggend heerlik getrakteer op 'n ontbyt wat deur Hannah Roux voorgesit is. Na die dag se spel het die algemene jaarvergadering van die Suid-Kaap Sagesgholfunie plaasgevind.
Nic Marais van Mosselbaai is weer tot voorsitter verkies terwyl die res van die bestuur ook herkies is, met net een uitsondering: Gary Ristow van Stilbaai, die sekretaris, staan terug en Kwartus Sieberhagen van Mosselbaai kom in sy plek. Nic Marais het ook die hoop uitgespreek dat 2022 'n meer normale jaar as die vorige twee sal wees en die Sages al hul verpligtinge sal kan nakom.
Uitslae
In die beterbal stablefordkompetisie het die volgende pare die beste tellings aangeteken:
- Fred Bull (Mosselbaai) en Van le Roux (besoeker) 45;
- Chris van den Berg en Tony Muller (Mosselbaai) 45;
- Cassie Swanepoel en Marius Loubser (Boggomsbaai) 44;
- Martin en Eleonor Speelman (Mosselbaai) 44;
- Kwartus Sieberhagen en Eugene du Plessis (Mosselbaai) 43;
- Johan Swart en Wilhelm Steenkamp (Stilbaai) 43;
- Tannah Harris en André Beukes (Boggomsbaai) 42;
- Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) 42;
- Denzil Geldenhuys en Colin Sharwood (Riversdal) 41.
Naaste aan die penne, geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Wessel de Bruyn van Stilbaai op 6/15 en Leon Neveling van Mosselbaai op 9/18.
Die volgende Sagessaamtrek is op 14 Februarie wanneer die Suid-Kaap en Outeniekwa in 'n 4BBB sal kragte meet om die Stigtersbeker op Mosselbaai.
Wenners op Boggomsbaai: Tony Muller, Martin en Eleonor Speelman, Nic Marais (voorsitter), Van le Roux, Fred Bull, Cassie Swanepoel en Marius Loubser.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'