MOSSELBAAI NUUS - Tradisioneel is Oktober en November maar twee winderige maande langs die suidelike kusgebiede en dit is dan ook die suidoos wat gholfers se gedagte aan 'n heerlike dag se gholf so 'n bietjie kan fnuik.
Verlede Dinsdag, 10 Oktober, was daar egter min sprake van enige wind en het 32 Sagesspelers in heerlike weersomstandighede op Boggomsbaai kom afslaan het.
Die reën van die vorige twee dae het ook gehelp om die omgewing se groen uit te lig.
Al die spelers is dit eens dat een van die lekker dinge om na uit te sien op Boggomsbaai is die heerlike ontvangs wat hulle altyd daar kry.
Dis 'n dom ou wat by die huis geëet het voordat hy daar gaan speel.
Hanna Roux, die klubbestuurder, het 'n heerlike ontbyt voorgesit vir almal en na die prysuitdeling het die spelers wat agtergebly het alles wat oorgebly het verder opgeëet.
Die spelformaat was 'n gekombineerde stablefordkompetisie.
Dit is opvallend dat daar drie 80-jariges onder die pryswenners was: Dawid Venter, George Sadowski en Buks Reynders.
Buks is 'n man wat die baan nog gemaklik met sy stootkarretjie stap, ongeag die feit dat hy in November 82 oud word. George Sadowski was in die laaste tyd twee keer in die hospitaal met long- en hartprobleme, maar hy is op 86-jarige ouderdom 'n inspirasie vir alle jong spelers.
Uitslae
Die volledige uitslag is:
- Hannes Mills en John van Rensburg (Boggomsbaai) 69;
- Dawid Venter en George Sadowski (Mosselbaai) 68;
- Van le Roux en Pieter le Roux (Boggomsbaai) 68;
- Dirk Bosman (Stilbaai) en Van le Roux (Boggomsbaai) 67;
- Fred Bull en Nic Marais (Mosselbaai) 67;
- Buks Reynders en Chris Barnard (Mosselbaai) 66;
- André Goetz en John van Rensburg (Boggomsbaai) 66.
Die naaste aan die penne, geborg soos altyd deur Anton Swart se JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Ernest Roux van Boggomsbaai op 6/15 en Grove Koch van Riversdal op 9/18.
Nuwe lede wat in die Suid-Kaap Sages se midde verwelkom word, is Giel Bezuidenhout, Nic Marais (beide van Mosselbaai) en Colin Sharwood van Riversdal.
Baie sterkte aan 10 van die Suid-Kaapspelers wat op 23-24 Oktober aan die Mini-Nationals in Durbanville gaan deelneem.
Dan is daar ook nog twee Sagesbyeenkomste oor vir die Suid-Kaapspelers in 2017: die Hennie Huyser-toernooi op Stilbaai op 7 November (4BB) en die Bertus Louw-toernooi op Heidelberg op 28 November (IPS).
Die Sages algemene jaarvergadering en afsluitingsfunksie sal ook op Heidelberg plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'