GHOLFNUUS - Gure weer het weer eens Woensdag, 21 Junie, se gholfkompetisie by die Mosselbaai-gholfklub in die wiele gery.
Saterdagoggend, 24 Junie, het ideale gholfweer die 154 spelers begroet en ‘n aangename dag is op die gholfbaan deurgebring.
Die spelers het aan ‘n individuele stablefordkompetisie deelgeneem en goeie tellings was aan die orde van die dag. Raadslid Ricus Serfontein was behoorlik op sy stukke en teken ‘n formidabele 43 punte aan.
Erick Barkhuizen het egter hard in sy nek geblaas en tree as naaswenner op 42 punte uit die stryd. Gesoute liga-speler, Danie van Langelaar, se 41 punte het hom verseker van die derde plek. Op 40 punte het Annette Pretorius die vroue se naam hoog gehou en was sy ‘n gewilde wenner van die vierde plek.
Die Saterdag het ook vir Derick Janse van Rensburg (38 punte), Riaan Kotzé, Gail Botha en Gert Pieterse, almal op 37 punte, met ‘n heerlike pak braaivleis huis toe gestuur.
Kolhou
Vrydag, 23 Junie, sal ook nie maklik deur Joelie Erasmus vergeet word nie. Die vorige keer toe daar hom berig is, het hy die eerste speler in die klub se geskiedenis geword wat ‘n ruit op die gholflandgoed met sy gholfstok “per ongeluk” uitgegooi het. Vrydag het hy ‘n droom verwesentlik deur op die vyftiende putjie ‘n kolhou te behaal. Welgedaan Joelie, ons is trots op jou prestasies!
As gevolg van die baie reën, stormsterk winde en snerpende koue kon baie van ons spelers nie hulle verpligtinge nakom ten opsigte van die winter uitklop-kompetisie nie. Spelers word nou tyd gegun tot 15 Julie om die eerste ronde van die kompetisie te voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’