TUINROETE GHOLFNUUS - Mosselbaai-gholfklub se hardebaarde het op Woensdag, 30 Junie die maandeinde behoorlik gevier.
Die beterbal stableford-kompetisie is oorheers deur die wysheid en die grysheid en Danie le Roux en Gerhard Pool het die voortou geneem en seëvier op 42 punte.
Kort op hulle hakke het nog twee veterane, Pat Good en Wayne Mitchell, hulle goed van hulle taak gekwyt en op 41 punte was hulle waardige naaswenners.
Met die uittel op 40 punte het Jarno Loubser en Gerrit van Zyl net-net hulle koppe voorgekry en word in die derde plek geplaas voor Wessel Brand en Noël Hudson. Op 39 punte het Pieter Barnard en Sakkie van der Merwe die vyfde plek ingeneem.
Saterdag
Die spanwerk van Barry Tooth en Gert Pieterse het op Saterdag, 3 Julie vrugte afgewerp en kraai hulle koning op 67 houe in die beterbal houespelkompetisie. Wessel Brand en Noël Hudson is deesdae weer behoorlik op stryk en eindig tweede op 67 houe nadat hulle die uittel verloor het.
Daar is vurig om die derde plek baklei, maar na die uittel het die gedugte kombinasie van Noël Domingo en Gavin Reynolds vrugte afgewerp en behaal hulle sukses op 68 houe. André Middel en Roelof Engelbrecht, asook Bernard Liebenberg en Koos van Niekerk, het die vierde en vyfde plekke ingeneem.
Rekordgetal rondes
Juniemaand het weer eens vir 'n hoogtepunt in die klub se geskiedenis gesorg. As daar na die afgelope aantal jare se annale gekyk word, was die meeste aantal rondes wat geboekstaaf is in Junie 2018 toe daar 2 888 rontes aangeteken is. Junie 2021 spog met 'n rekord-getal van 3 436 rondes wat bykans 550 rondtes meer is as in 2018.
Die Winteruitspeel-wedstryde vorder fluks. Johan en Danie van Langelaar het met een van die gunsteling inskrywings, Michael Rehr en Wynand Stander, afgereken. In die enkelspel maak John Blythe-Wood ook goeie vordering nadat hy Roelof Combrinck die aftog laat blaas het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'