MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat verlede maand sy 70ste verjaarsdag gevier het, Anton Izaakse (voorgee 18), het Woensdag, 2 Maart Bounty Wildsverwerking se borgdag op 'n indrukwekkende wyse gewen. Hy wen die individuele stablefordkompetisie op 'n skitterende 42 punte.
Daar was drie spelers op 40 punte, maar na die uittel was Hein van Niekerk die gewilde naaswenner. Chris Barnard en Joos van den Heever het die derde en vierde plekke gevul.
Bounty Wildsverwerking het ook gesorg dat Koos Snyman (39 punte), Hein Rehr, André Lambrechts en Paul Gouws, almal op 38 punte, nog heerlik kon gaan smul aan Divvie se smullekker braaipakke.
Saterdag
Die immerewilde vierbal alliansie-kompetisie wat Saterdag, 5 Maart vir die 164 spelers beskore was, het die kombinasie van Johan van den Berg, Manny Ascencao, Johan Griesel en Gerhard Vorster, soos 'n handskoen gepas.
Hulle 92 punte het hulle met die louere laat wegstap wat net 'n skrale punt voor die naaswenners was.
Edwin Scheepers Sam Gouws, Maurice Bernardo en Tony Muller se 91 punte het aan hulle die tweede plek besorg. Die 87-jarige Colin Buck, het sy span bestaande uit Dawid Gerber, Chris Barnard en Pieter Swanepoel, netjies bymekaar gehou en hulle 90 punte het aan hulle die derde plek besorg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'