MOSSELBAAI NUUS - Denzil Kleu Eiendomme het op Woensdag, 20 Januarie weer eens ‘n suksesvolle geborgde gholfdag aangebied.
Die 164 spelers het in heerlike weersomstandighede die dag ten volle geniet.
André van Wyk het die individuele stablefordkompetisie op ‘n verdienstelike 41 punte gewen.
Een van ons juniors, Ryk Pieter Smit, het sterk na vore getree en op 40 punte is hy na die uittel-proses as naaswenner aangewys.
Danie Venter (40 punte) wat deesdae ook vuurwarm gholf speel, het die derde plek ingeneem. Die nimlike, rustige en geduldige, 75-jarige veteraan, Oosie Oosthuizen, is deesdae ook gereeld op pad prystafel toe nadat hy die vierde plek na die uittel op 39 punte ingeoes het. Colin Bock se 39 punte het aan hom die vyfde plek besorg.
Saterdag
Saterdag, 23 Januarie se beterbal stablefordkompetisie het 144 spelers baan toe gelok. Die Curriebeker halfeindstryde het beslis nie die spelers van die baan af gehou nie. Heerlike oggendweer het die speeltoestande hemels gemaak, maar die middagspelers moes ‘n bykans stormwind trotseer.
Clive Kaptein en Michael Kriel het weer eens bewys dat hulle uitmuntende gholf in enige weersomstandighede kan opdis.
Hulle 50 punte was loshande genoeg om die figuurlik gesproke gemeste kalf huis toe te vat. Hulle speelmaats, Reece Naidoo en Brown Voster se 48 punte het hulle die naaswenners gemaak. Op 46 punte het Kelly Muller en Anthony Evertse die uittel teen André Lambrechts en Danie Nel gewen. Twee van ons gewaardeerde veterane, Paul Gouws en Gerhard Pool, het die vyfde plek ingeneem.
Gevorderde leeftyd
Die voorgee-stelsel, asook die gebruik van verskillende bowwe, verseker dat veral ouer spelers se gholfloopbane baie verleng word.
Om die stelling te staaf, merk ons dat 62% van die spelers op Saterdag 60 jaar en ouer was.
Merkwaardig is dat nege spelers 80 jaar en ouer was. Spelers in hulle sewentigs het op 24 te staan gekom, terwyl 52 spelers 60 jaar en ouer was. Dit is ‘n wonderlike voorreg om die sport waarvoor ons so lief is, nog op gevorderde leeftyd te kan geniet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'