MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die wonder van die grootsheid van seisoensverandering tref 'n mens so dikwels. Die laat opkoms van die son in die winter was as kind moeilik gewees, maar die wonder van die prag en skoonheid daarvan is net vir soveel meer mense beskore.
Mosselbaai-gholfklub bied seker een van die mooiste uitsigte, oor berge en see tydens sonsopkoms en sonsondergang. Hoe gelukkig is ons om op so 'n pragtige dorp te bly.
Woensdag
Woensdag, 23 Mei het 140 spelers mekaar die stryd aangesê in die beterbal syferplus-kompetisie. Die pa-en-seun-kombinasie van Piet en Pierre Meyer het op al hulle silinders gevuur en op +12 het hulle met die eerste prys weggestap. Kort op hulle hakke het Tjoepie Pretorius en Stefan van Vuuren op +11 die wenpaal in die tweede plek verby gesteek. Anton Izaakse (jnr) en Frankie Brown het ook +11 aangeteken, maar is na die uittel derde geplaas.
Die spookmaat het ook sy kant behoorlik gebring en vir Wessel Geldenhuys gehelp om op +10 in die vierde plek te eindig. Ou staatmakers, Skippie Scheepers en Ferdie Jonck, het op +9 vyfde geëindig.
Saterdag
Saterdag, 23 en Sondag, 24 Mei het die mid-amateurtoernooi op ons baan plaasgevind. Aangesien die oggendveld deur hierdie spelers beset is, kon slegs 60 spelers Satermiddag aan die individuele stableford-kompetisie deelneem.
Oosie Oosthuizen, bekende sakeman, storieverteller en een van 'n uitgelese groep langslewende lede van ons klub, het sy talente behoorlik ten toon gestel en op 39 punte was hy loshande die wenner. Arthur Percival en Barrie Klindt het op 36 punte tweede en derde geëindig.
Gholfspeler van die jaar
'n Verbete stryd is aan die opbou om die gholfspeler van die jaar te bepaal. JJ Joubert loop tans voor op 31 punte, maar Jean Borchardt blaas hard in sy nek op 28 punte. Die volgende spelers is beslis ook nog in die wedloop: Gert Pieterse (24 punte), Arrie van der Linde (23 punte) en Werner Bekker (23 punte).
Daar is egter nog 'n hele klomp spelers wat die appelkar kan omkeer. Spelers het nog vier individuele kompetisies tot 30 Junie oor waarin hulle punte kan verwerf vir hierdie gesogte trofee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'