MOSSELBAAI NUUS - Op Woensdag, 16 Mei het Global Gholf se maandelikse houespel borgdag die spelers se vernuf, deursettingsvermoë, geduld en temperament behoorlik beproef.
Jean Borchardt wat in April nog op 'n voorgee van 8 sy teenstanders aangedurf het, speel deesdae uitmuntende gholf en sy voorgee is tans 4. Hy wen dan ook die A-afdeling op 'n bruto-telling van 74 houe. Anton Steenkamp (voorgee 16) het sy stem in die B-afdeling dik gemaak en op 'n bruto-telling van 88 houe was hy die oorwinnaar. Die 82-jarige Dirk Swart (voorgee 26) is soos goeie wyn, hoe ouer hoe beter. Sy bruto-telling van 97 houe het gesorg dat hy koning kraai in die C-afdeling. Wel gedaan Dirk.
Goeie netto-tellings is deur die volgende spelers aangeteken: D Bourhill (66 houe), D Gerber (68 houe), J Blythe-Wood (69 houe), D Steward en H Botha, albei op 71 houe. Baie dankie aan Arrie van der Linde en Global Golf vir hulle borgskap en vriendelikheid in die gholfwinkel.
Saterdag
Ten spyte van die buitengewone hitte was 144 spelers deel van Saterdag, 19 Mei se individuele stablefordkompetisie. Die gholfvriendelik opgestelde baan het goeie tellings tot gevolg gehad. Hilton Duminy se 41 punte in die A-afdeling was genoeg om sy teenstanders te troef. Chris Barnard (voorgee 16) het na 'n lang afwesigheid 'n welkome terugkeer gemaak deur die B-afdeling op 44 punte te wen.
Jaco Groenewald (voorgee 25) se entoesiasme vir die spel het gesorg dat hy op 43 punte die C-afdeling syne kon maak. Die volgende spelers kon ook deel in die heerlike vleispryse: J Lourens (44 punte), A Fourie (snr) (43 punte), D van Zyl, T Venter, A Bruwer, almal op 41 punte, asook N Manie op 40 punte.
Winter-uitklopreeks
Die winter-uitklopreeks is ook fluks op pad. Noël Hudson en Wessel Brand het 'n verbete stryd teen Konstant Nel en Jacques Human gevoer en kon eers op die 18de putjie hulle neuse voorkry. Spelers wat ingeskryf het vir die uitklopreeks word versoek om betyds hulle verpligtinge na te kom.
Vergadering
Lede moet kennis neem dat 'n spesiale algemene vergadering op Woensdag, 30 Mei om 18:00 by die Mosselbaai-gholfklub plaasvind.
Die voorlegging van die 2019-begroting sal gedoen word en jou teenwoordigheid sal hoog op prys gestel word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'