Gallery
GOLF NUUS - Kort op die hakke van sy oorwinning as die nuwe R & A Amateur-wêreldgholf-kampioen, is Aldrich Potgieter (17) verlede week op Mosselbaai vereer.
Potgieter het hierdie kampioenskap op 18 Junie beklink en speel danksy sy prestasie in die 150ste Ope Kampioenskap op St Andrews in Skotland vanaf 10 tot 17 Julie, wat beskryf word as die "Wimbledon van gholf".
'n Klompie uitgesoekte gaste het 'n ete op Vrydag, 24 Junie by Pinnacle Point bygewoon waar Potgieter saam met sy gesin bly. Die Pinnacle Point-gholfklub het hom ook 'n erelidmaatskap aangebied tydens die geleentheid.
FOTOGALERY: Aldrich Potgieter word vereer
Potgieter is tans deel van die Louis Oosthuizen-gholfakademie.
Francois Olivier, voorsitter van die Pinnacle Point-gholfkomitee en raadslid van Pinnacle Point Estate, het tydens sy spreekbeurt aan Potgieter gesê dat die Pinnacle Point-gemeenskap bankvas agter hom gestaan het tydens die hele toernooi in Skotland.
"Jy is nou deel van hierdie span. Ons gemeenskap is baie trots op jou en het almal saam in verstomming gekyk hoe jy jou oorwinning behaal."
Hy het die analogie van 'n kapstok gebruik om aan Potgieter te verduidelik wat hom as jong sportman in 'n wêreld met baie druk sal kan staande hou.
Burgemeester Dirk Kotzé en Aldrich Potgieter
"In die ou dae het mense hulle hoed by die ingang van 'n plaashuis aan 'n kapstok opgehang. Kry vir jou so 'n paar emosionele kapstokke, oftewel mense by wie jy kan aanhaak vir ondersteuning. Jy gaan dit nodig hê. Daar sal tye van vreugde wees, maar ook baie uitdagings. Kry vir jou kapstokmense soos jou ouers en jou familie by die Louis Oosthuizen-gholfakademie."
Potgieter se afrigter, Val Holland het tydens die geleentheid gesê dat sy die 17-jarige speler se sterkwaliteit dadelik raakgesien het.
"Na jou eerste les het ek geweet, hier het ons 'n nommer een wêreldklas gholfer. Well done boy!," het 'n trotse Holland haar student gelukgewens.
Aldrich Potgieter met sy afrigter, Val Holland.
Uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé het namens die munisipale raad en groter Mosselbaai gesê hoe trots die gemeenskap daarop is om iemand van Potgieter se kaliber in dié omgewing te hê.
"My eerste indrukke van jou toe ons vanaand ontmoet het, was nederigheid en fokus. As 'n suksesvolle sportman, is dit seker een van die mees belangrike kwaliteite, om jou voete om die grond te hê."
Potgieter het sy ondersteuningsnetwerk, veral sy gesin en die span van die Louis Oosthuizen-gholfakademie bedank.
Hy het spesifieke melding van sy Ouma Dollie gemaak.
"Sy het nog altyd in my geglo en geweet ek gaan dit maak. Hierdie oorwinnig is hare. Ook aan die Here, dankie vir die seën van hierdie talent. Ek hoop om dit te kan gebruik vir die regte redes," het hy afgesluit.
Francois Olivier (links) en Carl van der Linde van Pinnacle Point het 'n erelidmaatskap van die gholfklub vir Aldrich Potgieter aangebied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'