Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die plaaslike NSRI stasie 15 het onlangs besluit om die blou waters van die oseaan vir die grasgroen setperke van die Pinnacle Point-gholfbaan te verruil to hulle op Saterdag, 25 Maart ‘n uiters suksesvolle gholfdag aangebied het.
NSRI Stasie 15 wat reeds in 1971 in Mosselbaai tot stand gekom het, het die gholfdag beplan om fondse in te samel vir die aankoop van ‘n Jetrib.
FOTOGALERY: NSRI stasie-15 van die Pinnacle Point-gholfbaan
‘n Jetrib is basies ‘n jetski wat op ‘n rubberboot gemonteer is.
Hierdie tipe reddingsvaartuig word reeds baie suksesvol gebruik deur ander NSRI-stasies vir die aanwending van reddingsoperasies tussen die branders. Die koste van so vaartuig beloop sowat R650 000.
"‘n NSRI-komitee is saamgestel om die dag te reël en die take is met groot ywer aanvaar. Die bemanning was later so oorgehaal vir reëlings rondom die gholfdag soos om op ‘n kode rooi te reageer (‘n term van NSRI vir ‘n noodoproep)," vertel Dawie Swiegelaar aan die Mossel Bay Advertiser.
NSRI-hoofkantoor het Mitsubishi een van NSRI nasionaal se jarelange getroue ondersteuners, as hoofborg met ‘n stewige R15 000 bevestig. Van die plaaslike besighede het die NSRI met soveel aanbiedinge ondersteun dat borgskappe van die setperke binne enkele dae gevind is en 'n vol veld van 124 spelers hulle plekke bespreek het.
Die spel
"Saterdag, 25 Maart was van die NSRI-bemanning reeds om 07:00 die oggend op hulle poste om die dag te begin. Mitsubishi se uitstalling van hulle pragtige voertuie saam met een van Wildernis NSRI se Jetribs voor die ingang na Pinnacle Point, het die spelers verwelkom en presies om 11:00 is die NSRI Betterball Stableford Scramble Drive gholf-kompetisie met die opskiet van twee NSRI noodfakkels aangedui," vertel Swiegelaar. Groot pryse was op die spel. EdenFM het met hul 'n buite-uitsending, luisteraars op hoogte van die dag se gebeure gehou met gereelde onderhoude met die bemanning van Stasie 15.
Kort na die laaste gholfspeler die klubhuis binnegestap het, maak Banie Tromp sy opwagting met sy helikopter om gemerkte gholfballe uit die lug te gooi. Afstande is met ‘n maatband geverifieer om die wenners te bepaal.
Prysuitdeling
Na ‘n feesmaal van uitstaande geregte deur Pinnacle Point, is die formaliteite deur die voormalige stasiebevelvoerder André Fraser behartig. Zwiegelaar lewer ‘n kort rede oor die ontstaan van die gholfdag waarna die stasiebevelvoerder, JC Roos meer vertel oor die NSRI. Craig Lambinon, die amptelike segsman van die NSRI wat al die pad van die Kaap gekom het om self ook te kom gholf speel, lewer na Roos ‘n kort inset oor NSRI nasionaal.
'n Geslaagde veiling is ook gehou met onder andere 'n jagpakket wat vir ‘n pragbedrag van R12 000 opgeveil is en 'n paar plakkies wat die mooi bedrag van R1 000 gehaal het.
Uitslae
1. S Joubert en G Ras 57;
2. Renate Becher-Meisen en Heinz Meisen 53;
3. Hennie le Roux en Duane Scholtz 51;
4. Charles Taute en Johan Prinsloo 50;
5. Granville Briesies en Abrie Nel 49;
6. Patrick Vandenauweele en Rita Obin 49;
7. B du Toit en Braam Swanepoel snr 49;
8. Chris Wolhuter en Lynnette Wolhuter 49;
9. Nicole Spielmann en Nick Felfoldi 48;
10. Nelus Loots en Mariaan Loots 48;
11.Ruan Strydom en Christo Botha 47.
- Langste dryfhou - Duane Scholz op die 10de.
- Langste dag - Edwin Clayton.
Naaste aan die skoen op 9de - Chris Wolhuter op die 9de; naaste aan die skoen op 17de - Lynnette Wolhuter.
Naaste aan die pen - Justin van Alphen (op 7de), Wian Writes (9de), Vissie (13de) en Nick Felfoldi (17de).
Dankie
"Die NSRI Stasie 15 wil langs hierdie weg almal bedank wat die dag moontlik en so suksesvol gemaak het. Dankie vir elke borg, elke geskenk hoe groot of hoe klein, elke speler wat deelgeneem het, Pinnacle Point vir wêreldklas geriewe en natuurlik die onvervangbare bemanning van Stasie 15. Hierdie suksesvolle dag was alles te danke aan julle bydraes, harde werk, lang ure, baie sweet en die ergste van alles, ‘n dag se wegbly van die see, baie dankie julle staatmakers. Laastens alle eer aan ons 'Hoofborg', ons Hemelse Vader wat 'n perfekte dag voorberei het vir gholf," sê Swiegelaar.
Die NSRI-gholfdag is gehou om 'n soortgelyke Jetrib vaartuig vir die NSRI stasie 15 aan te koop.
NSRI-lid, Bronwyn Weilbach (voor) het ook aan die gholfkompetisie deelgeneem. Saam met hom is Conrad Potgieter en Danie Verwey, beide NSRI deputy statsiebevelvoerders.
Die span van Hamilton Wessels argitekte het een van die putjies geborg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’