MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Adriaan Maarschalk en Jan Taljaard het op Woensdag, 10 Maart die individuele stablefordkompetisie op 'n stewige 40 punte op die Mosselbaai-gholfbaan voltooi.
Adriaan was die beste daaraan toe met die uittel-proses en tree as oorwinnaar uit die stryd.
Jan was die gewilde naaswenner. Johan van der Berg het op 39 punte seker gemaak dat die derde prys aan hom behoort. Martin Vorster (voorgee +6), een van ons land se top juniors, het skitterende gholf gespeel en het slegs 64 houe nodig gehad om sy rondte te voltooi. Sy 38 punte het hom in die vierde plek laat eindig. Goeie tellings is ook deur John Masie, Erick Barkhuizen (albei 38 punte) en Tjoepie Pretorius en Wouter Kotzé (albei 37 punte) aangeteken.
Saterdag
'n Goeie spanpoging was op Saterdag, 13 Maart die geheim tot sukses. Die vierbal alliansiekompetisie het van elke spanlid verwag om hulle deel by te dra.
Onder leiding van 'n entoesiastiese Hester de Jager het Elias Engels, Les de Jager en Hennie Klopper die bul by die horings gepak en die wa suksesvol deur die drif getrek met 'n stewige 87 punte binne in die sakkie. Tweede was Jean Borchardt, Hilton Duminy, Jaco Prinsloo en hulle Spookmaat op 86 punte. John Blythe-Wood, David Bourhill, André Bruwer en JJ Joubert het op 84 punte die derde plek ingeneem.
Die heerlike reën wat die afgelope week uitgesak het, is ook by Mosselbaai-gholfklub met groot blydskap ontvang.
Die dorre gras het hulle koppe opgelig en die bokkies dartel vrolik oor die skoonvelde. Mens en dier is verheug oor hierdie inspuiting wat Moeder Aarde ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'