MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselkrakers se kampioenskap wat op 14 November begin en oor drie dae gestrek het, was soos met alle vorige toernooie baie kompeterend en 'n gemiddeld van 80 lede per dag het aan die toernooi deelgeneem.
Die manne en vroue het mekaar behoorlik die stryd aangesê.
Ons het oor jare geleer om nie die spreekwoordelike geelwortel voor Dawid Gerber te hang nie, hy kan dit net nie weerstaan nie en vanjaar was geen uitsondering. Van dag een het hy die septer geswaai en hy wen die kampioenskaptitel gerieflik met 9 houe.
Steve Schoeman se gholf was net so indrukwekkend en stap met die netto toekenning weg.
Die vroue het ook die pap dik aangemaak, maar Annemarie Luggen se 40 punte na die eerste dag het verseker dat sy die gesogte toekenning ontvang.
Vir die divisies was op 'n stablefordpunte basis meegeding en dr Johan Griesel wen die A-divisie terwyl André Zietsman en Giel de Kok onderskeidelik die B- en C-divisies wen. Die naaswenners was Les Wright - A-divisie, gevolg deur Eddie Jenkerson, B-divisie en Drik Leibbrandt, C-divisie.
Die senior toekenning vir die 75-jariges en ouer het uiteindelik gegaan aan Joe Luggen.
Ons jaareindfunksie/prysuitdeling was gehou op Vrydag, 1 Desember in die Sea View restaurant. Boesman Keyser het ons laat terug verlang na dae verby met sy saxofoon en 'n paar gewilde golden oldies. Teuns Keuzenkamp het 'n paar bottels wyn geskenk en dit het goed bygedra om die aand 'n besonderse een te maak.
Die Mosselkrakers vat nou 'n blaaskans en span uit tot 12 Januarie, waarna ons die Nuwejaar gaan aanvat.
Die kampioen, Dawid Gerber.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'