MOSSELBAAI GHOLF-NUUS - Ligaspanne van dwarsoor die Suid-Kaap het die afgelope Saterdag, 25 Augustus op Mosselbaai saamgetrek om mekaar die stryd aan te sê om te bepaal wie na die kwarteind-ronde gaan deurdring.
Mosselbaai se twee voorgeespanne het uitmuntend vertoon. In afdeling 1 het die Mosselbaaiers teen Kingswood kragte gemeet en hopeloos te veel skietgoed gehad vir hulle moedige opponente. Die eindtelling was 10 wedstryde teenoor 2. Hierdie span speel Saterdag, 1 September op Pezula teen Riversdal.
Mosselbaai se ander span in afdeling 3 het harde bene teen George gekou en het net-net met 5.5 wedstryde teenoor 6.5 wedstryde die onderspit gedelf. Die span se puntestand was nogtans genoeg om hulle deur te dra na die kwarteindronde op Pezula waar hulle teen Plettenbergbaai die stryd sal moet voer.
Mosselbaai Ope
Die Mosselbaai Ope het Sondag, 26 Augustus in stormsterk wind plaasgevind. Die kampioenskap moes oor 36 putjies beslis word, maar is na 18 putjies afgelas. Adian Boon (voorgee +1) van Oubaai-gholfklub het 71 houe aangeteken en is na 18 putjies as die kampioen gekroon. Ivan Williams (voorgee +2) van George was die naaswenner op 73 houe. Ons eie Martin Vorster (voorgee +3) was derde op 75 houe.
Woensdag, 22 Augustus se wenners is agter: S van der Merwe en W Vorster. Voor: C Bock en D Bouwer.
Woensdag
Op Woensdag, 22 Augustus het 120 spelers aan die beterbal houespelkompetisie deelgeneem. Goeie tellings was aan die orde van die dag, maar die dodelike kombinasie van Waldo Vorster en Sakkie van der Merwe het op 59 houe net-net na die uittelprosedure teen Adin van Aswegen en Talvin Schultz, geseëvier. Daar is ook kwaai gespook om die derde plek en weereens moes daar uitgetel word. Colin Bock en Dean Bouwer was hier die beste daaraan toe op 60 houe. Paul Brits en John Masie, asook Malan Barnard en Geoff Bernhardt se 60 houe het hulle onderskeidelik vierde en vyfde geplaas.
Saterdag
Môre, Saterdag 1 September sal 24 spelers om die titel van kampioen van kampioene meeding.
Barry Vermeulen wat verlede jaar naaswenner was, is weer een van die gunstelinge om die titel op te raap. Gert Pieterse blaas hard in sy nek, asook vele andere.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'