MOSSELBAAI NUUS - Ons voorgee-ligaspan onder die entoesiastiese kapteinskap van Donny Smith het Saterdag op Oubaai die sterk span van Pinnacle Point met agt wedstryde teenoor vier verslaan.
Hierdie span het sy afdeling onoorwonne afgesluit en sodoende deurgedring na die kwarteindronde van die Suid-Kaap ligakampioenskappe. Hulle kom Saterdag te staan teen die gedugte span van Riversdal op Pezula.
Woensdag
Op Woensdag, 30 Augustus het tipiese Mosselbaai weer ons deur al vier seisoene geneem. Die sakemannedag het gesteier onder die oggendweer met net 'n handjievol bittereinders wat deurgedruk het.
Die koue, nat weer van die oggend het soos mis voor die son verdwyn toe die middag-spelers in heerlike sonskynweer begin afslaan.
Die beterbal stableford-kompetisie het uitstekende tellings gelewer en Louwtjie Louw het sommer 'n groot verjaarsdag geskenk gekry toe hy met die hulp van sy spookmaat op 50 punte eerste geëindig het. Waldo Vorster en Carlos Pinto het ook 'n skitterende 49 punte aangeteken wat aan
hulle die tweede plek besorg het. Die gedugte pa-en-seun-kombinasie van Johann en Danie van Langelaar het op 48 punte die derde plek hulle s'n gemaak.
Op 47 punte het die volgende spelers ook nog in die heerlike vleispryse gedeel: A en C Zietsman, P Meyer en E Scheepers, B Barnard en P Botes. E Veldsman en R Strydom asook D en M Parker het op 46 punte ook nie met leë hande huiswaarts gekeer nie.
Twee van ons klub se ou karperde, die nimlike Oosie Oosthuizen en bedagsame Nico Pienaar, het ook presteer deurdat hulle na 'n naelbyt uittel die prys vir die meeste gholf ontvang het.
Wenners van die sakemannedag is van links, agter: D van Langelaar, A Zietsman, M Parker en C Pinto. Voor: J van Langelaar, C Zietsman, D Parker, E Scheepers en W Vorster.
Saterdag
Saterdag, 2 September het die vroue die manne behoorlik tweede viool laat speel in die individuele stableford-kompetisie. In die A-afdeling het die talentvolle Jodie Duminy op 41 punte gewen.
Noël Hudson het die B-afdeling heeltemal oorheers en op 45 punte was hy loshande die wenner. Gary Rule se 41 punte het hom die wenner van die C-afdeling gemaak.
Die vroue het vanaf die vierde tot die agste plek koning gekraai. Tracy Venter (41 punte), Gloria Greyvenstein (40 punte), asook Driekie Parker, Hettie Bruwer en Hester de Jager, almal op 39 punte.
Sakkie Morrison se 39 punte het hom ook prystafel toe laat stap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'