MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Aan die einde van Januarie 2020 kan ons met groot dankbaarheid terugkyk na 'n geseënde, suksesvolle vakansieseisoen wat ons by Mosselbaai-gholfklub beleef het.
Nadat daar gedurende Desember 2019 meer as 5 700 rondes op ons mooi baan gespeel is, het die droogte egter kommerwekkende gedagtes by 'n ieder en 'n elk gewek.
Januarie 2020 het die sluise van die hemele geopen en kon ons met die grootste dankbaarheid ervaar hoe moederaarde weer lewe blaas in die steeds gewillige plante- en diere-ryk.
Die duisende besoekers aan die gholfklub het weer eens die voorreg gehad om vriendelike en bekwame diens van ons personeel te ervaar waarvoor Mosselbaai al heinde en verre bekend is.
Die entoesiastiese leiding van die hoofbestuurder, Graeme Viljoen, in samewerking met die raad, verdien net die hoogste agting en respek.
Gavin Coleman, nuut aangestelde baansuperintendent, het sy kennis en ervaring gebruik om die baan weer in 'n lushof te verander. Geluk Gavin en jou personeel wat deur harde werk sorg dat lede en besoekers weer na die baan stroom.
Johan van der Merwe en sy personeel in die restaurant het ook deur hulle harde werk verseker dat elke lid en besoeker voortreflike diens ervaar. Arrie van der Linde en sy personeel van Global Golf verdien ook net die grootste lof vir die lang ure en harde werk wat vir almal dit so aangenaam gemaak het.
Ons is opreg dankbaar vir elkeen se voortreflike bydrae om van ons klub 'n spesiale plek te maak.
Kompetisies
Gedurende Desember 2019 en Januarie is baie kompetisies aangebied en dit was verblydend om te sien dat ons besoekers se deelname ook verskeie pryswenners ingesluit het. Saterdag, 25 Januarie, in heerlike weersomstandighede, het 180 spelers deelgeneem aan die vierbal alliansie kompetisie.
Goeie tellings was aan die orde van die dag en na die uittel-proses afgehandel is, het F de Villiers, R Tolman, G Rule en T Greyvenstein op 107 punte as oorwinnaars uit die stryd getree.
G Engelbrecht, H Rehr, S van Vuuren en A Izaakse was die naaswenners op 107 punte. Die derde plek is deur H Borchardt, N Botes, T Teichert en S van der Merwe op 106 punte gevul. Die dag sal egter lewenslank deur Jan Joubert onthou word wat op die vierde putjie 'n volmaakte gelukhou behaal het.
Net die vorige dag het een van die Mosselkrakers, Fred Bull, op dieselfde putjie die prestasie behaal. Veels geluk aan hiedie twee entoesiastiese gholfspelers.
Met die nuwe jaar in volle swang is dit ons wens dat elke lid 'n wonderlike, genotvolle en heerlike jaar by ons klub sal geniet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'