MOSSELBAAI SPORTNUUS - Mosselbaai-gholfklub wil dit vroeg reeds onder hulle lede se aandag bring dat die jaarlikse klubkampioenskappe hierdie jaar op Saterdag, 6 Mei en Sondag, 7 Mei sal plaasvind.
Die inskrywingslys is reeds op die amptelike kennisgewingbord aangebring.
Tref jou reëlings so dat jy daardie naweek in die vreugde van die kampioenskappe kan deel.
Woensdag
Woensdag, 15 Maart het Moeder Natuur besluit om ‘n stokkie voor die gholfspelers se planne te steek en geen kompetisie het plaasgevind nie.
Saterdag
Saterdag, 18 Maart het die spelers weer baan toe gestroom en ‘n heuglike dag geniet. Spanwerk was ‘n voorvereiste om sukses in die vierbal alliansie-kompetisie te behaal.
Die bestendigheid van Barry Tooth het sy mede-spelers, Noël Hudson, Wessel Brand en George Ferns behoorlik inspireer. Hulle teken ‘n stewige 89 punte aan wat hulle as oorwinnaars uit die stryd laat tree.
Kort op hulle hakke op 88 punte het Neilia Botes en Annmarie Gray ook iets aan hulle medespelers gedoen, want Ricus Serfontein en Joe Gray bring behoorlik hulle kant en was gewilde naaswenners.
Die gedugte kombinasie van Philip Smit, Joos van den Heever, Derick Janse van Rensburg en Gerrit an Zyl het ook nie gras onder hulle voete laat groei nie en derde geëindig op ‘n verdienstelike 86 punte.
Die vallende herfsblare, latere sonsopkoms en ‘n sonnetjie wat saans al vinniger agter die horison verdwyn, maak ons so deeglik bewus van die wonder van die natuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’