MOSSELBAAI NUUS - Die derduisende vakansiegangers wat op Mosselbaai en omgewing gedurende die skoolvakansie toegesak het, het nie net alleen heerlike weersomstandighede geniet nie, maar kon ook deel in die vele bedrywighede wat op ons mooi dorp en omgewing aangebied is.
Mosselbaai-gholfklub het een van sy beste seisoene beleef met bykans 6 000 rondes gholf wat gedurende Desember 2017 gespeel is.
Die miernes van bedrywighede het 'n heerlike vakansie-atmosfeer geskep en vele ou vriendskappe is hernu en talle nuwe vrienskappe is gesmee. Vele kompetisies is aangebied en menige besoeker het met goeie pryse huiswaarts gekeer.
Die nuwe jaar het op 'n hoogtepunt afgeskop met 302 spelers wat op Woensdag, 3 Januarie aan Bounty Wildsverwerking se borgdag deelgeneem het. Barry Vermeulen (voorgee 12) wat deesdae uitstekende gholf speel, het die A-afdeling van die individuele stableford-kompetisie op 40 punte gewen.
Pieter de Bruyn, oud-lid van Mosselbaai-gholfklub, het sy vernuf ten toon gestel en op 43 punte het die B-afdeling aan hom behoort. Willem Nel klop al lank aan die wennersdeur en op 40 punte het hy breed geglimlag as wenner van die C-afdeling. Met die meeste vakansiegangers op pad huis toe, het die plaaslike spelers stewig vertoon.
Gloria Greyvenstein (42 punte), Kosie Otto en Joe Luggen (41 punte), asook Dave Steward, Sakkie Morrison en Johan Steenekamp, almal op 39 punte, het ook ruim in Bounty Wildsverwerking se heerlike vleispryse gedeel.
Saterdag, 6 Januarie is die beterbal stableford-kompetisie gekenmerk deur buiten gewone hoë tellings. Thys Greyvenstein en Johny Fourie se 53 punte het onaanvegbaar gelyk, maar Johan Swanepoel en Johan Prinsloo (53 punte) het 'n uittel afgedwing. Thys en Johny het die knoop deurgehaak en het as oorwinnaars uit die stryd getree. Ander verdienstelike tellings: D Swanich en M Rehr (49 punte), A Griesel en A Kotzé (48 punte) asook S en G Morrison en L en D Fourie op 47 punte.
Geliefde lid sterf in ongeluk
Mosselbaai-gholfklub het Sondag die tragiese nuus ontvang dat een van ons lojale en geliefde lede, dr Erhardt Veldsman, in 'n motorongeluk oorlede is. Sy vele gholfvriende sal hom altyd onthou vir sy vriendelikheid, bedagsaamheid en sy absolute lojaliteit teenoor almal met wie hy in aanraking gekom het.
Ons innige medelye gaan uit na sy beseerde vrou, kinders en familie in hierdie hartseer tyd. Sterkte en vertroosting word julle toegebid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'