MOSSELBAAI NUUS - 'n Rekord aantal spelers het die eerste vier maande van 2022 die Mosselbaai-gholfbaan besoek. In April is 4 267 rondes aangeteken wat die totale aantal rondes vir die eerste vier maande op 18 441 te staan bring.
Gavin Coleman (baanbestuurder) en sy personeel verdien groot lof vir die puik toestand van die baan. Steve Basson (klubbestuurder) en sy personeel, asook die raadslede, se reuse bydrae om hierdie skip vlot te laat vaar, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Welgedaan Mosselbaai-gholfklub.
Woensdag
Die sakemannedag het op Woensdag, 27 April 172 spelers baan toe gelok om aan die beterbal stablefordkompetisie deel te neem. Brown Vorster en Michael Kriel het op 46 punte koning gekraai.
Op 44 punte was die naaswenners André van Wyk en Hendrik Kriek. Rob Muller en Gloria Greyvenstein het op 43 punte derde geëindig nadat hulle die uittel teen Wouter Kotzé en Bennie Badenhorst suksesvol oorleef het.
Twee-en-veertig was genoeg om ook nog vir André du Plessis en Kabous Pretorius, asook Chris van den Berg en André Zeelie prysgewys gelukkig te hou. Dankie aan die sakemanne vir hulle getroue en lojale ondersteuning.
Saterdag
Michael Kriel is weer behoorlik op stryk nadat hy Saterdag, 30 April se individuele stablefordkompetisie behoorlik oorheers het. Vanaf 'n voorgee van 8 teken hy 45 skitterende stablefordpunte aan.
Die 76-jarige Dawid Gerber wat vanaf 'n 6 voorgee speel, het uitstekende gholf gespeel en 40 punte aangeteken. Dawid het slegs 74 houe gespeel om sy ronde te voltooi en sodoende sy ouderdom met twee houe te klop. Merkwaardig vir hierdie talentvolle speler. Dit is die tweede keer die afgelope twee weke wat hy hierdie besonderse prestasie behaal het.
Wiekus Pretorius het ook 40 punte daargestel en het die derde plek behaal. Goeie gholf is ook deur die volgende spelers gelewer: E Noppe, B Voster, M Mulder (almal op 39 punte), asook E Kaptein (38 punte) en B Kotzé (37 punte).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'