MOSSELBAAI NUUS - Die seisoen is byna in volle swang as daar na die aantal besoekers gekyk word wat reeds by ons klub aangedoen het. Meer as 205 spelers per dag het reeds die afgelope vyf dae hulle gholf op ons mooi baan kom geniet.
Die volgende twee weke sal die aantal rondtes die hoogte inskiet as statistieke van vorige jare 'n aanduiding is oor wat ons kan verwag. Die aantal rondtes wat reeds bespreek is, bevestig dat ons 'n skitterende seisoen gaan beleef.
Global Golf se individuele houespelkompetisie op Woensdag, 12 Desember het 176 spelers laat meeding. Raadslid Michel Rehr (voorgee 6) was behoorlik op sy stukke en op 75 houe teken hy die beste bruto-telling van die dag aan. Uitstekende netto-tellings is ook deur die volgende spelers aangeteken: Gary Rule (67 houe), Talvin Schultz (68 houe), Manfred du Preez (69 houe), Markie Sciarone en Hennie Klopper (71 houe), met André du Plessis en Tjoepie Pretorius op 72 houe. Welgedaan Arrie en jou span van Global Golf.
Saterdag
Saterdag, 15 Desember het 'n klomp spelers al voorsiening vir hulle Kersete gemaak, deur met groot pakke vleis huiswaarts te keer en sodoende vroulief se hart met blydskap te vul. Konings van die vierbal alliansie-kompetisie het weer eens hulle stempel deeglik afgedruk. Op 'n onaanvegbare telling van 106 punte het Attie van Niekerk, Stephen Terblanche, Eugene Duthie en Jonathon Shelver die kompetisie oorheers. Op 101 punte is daar kwaai baklei om die tweede plek. H Duminy, D van Zyl, S Wheeler en W Schoeman het na die uittel die pyp gerook. Die derde plek is deur L Strydom, A van der Linde, M de Villiers en C Jonck ingeneem.
Ons beste wense vir 'n geseënde Kersfees en 'n voorspoedige nuwejaar aan al ons lede, besoekers en kennisse. Baie dankie vir al die vriendskappe wat gedurende 2018 gesmee is en hartseer en vreugde wat gedeel kon word.
Die wenners van Global Golf se borgdag is van links, agter: M Rehr, O Qhina (Global Golf), T de Jager en W Kotzé. Voor: M Sciarone, T Pretorius en M du Preez.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'