In Mei het Vroue Gholf Suid-Afrika die room van amateur vroue na Mosselbaai gebring. Die Suid-Kaap Ope het in Augustus gevolg en Sondag, 31 Augustus, het die Suid-Kaap Pare kampioenskap op ons mooi baan plaasgevind. Gholf van hoogstaande gehalte is gedurende hierdie drie toernooie gelewer.
Parespel-toernooi
Sondag se Parespel-toernooi het getoon hoekom Nicolas Mitchell (voorgee +4) as speler so hoog aangeskryf word in die Suid-Kaap en selfs landswyd. Gedurende die oggend-rondte wat 'n beterbal-formaat was, het hierdie speler van George 'n skitterende 65 houe aangeteken.
Sy ewe talentvolle maat, Heinrich Frylinck (voorgee +1), van Kingswood, het bygedra dat hulle die rondte in 63 houe kon voltooi.
Gedurende die beurtspelle wat die middag plaasgevind het, het hulle 73 houe aangeteken wat hulle in staat gestel het om op 136 houe te eindig. Dit het hulle 'n gerieflike oorwinning oor Ivan Williams en Lanny Davids gegee wat op 142 die naaswenners was.
Die netto-afdeling is deur die twaalfjarige Martin Vorster van Mosselbaai en sy maat B van Wyk op 134.5 houe gewen.
Mosselbaai Ope
Die uitmuntende toestand van Mosselbaai se baan het verseker dat byna al die top-spelers in die Suid-Kaap hulle reeds ingeskryf het vir die Mosselbaai Ope wat Sondag 7 September oor 36 putjies hier beslis gaan word.
Woensdag
Die Sakemanne Dag wat op Woensdag 26 Augustus plaasgevind het, het 160 spelers van die werk en gras-sny af weggelok. In die A-afdeling het Johan van Rensburg en Stefan van Vuuren op 45 punte gewen.
In die B-afdeling het Louis Oosthuizen se befaamde joggie, Wynand Stander, en sy maat Riaan Schenck, hulle teenstanders behoorlik karnuffel deur 'n massiewe 51 punte aan te teken. Nog uitstekende tellings het van André en Rohard Middel, Pat Good en Wayne Mitchell en Johan Labuschagne en André Zeelie gekom, wat almal 49 punte aangeteken het.
Saterdag
Die 144 spelers wat Saterdag 30 Augustus mekaar die stryd in die beterbal syfer plus kompetisie aangesê het, kon heerlike sonskynweer geniet.
Twee jongmanne, Johan Prinsloo en Stephen Muller het die A-afdeling op +12 gewen. In die B-afdeling het Wykie van de Vyver en Chris Barnard die krane behoorlik oopgedraai en seëvier hulle op +14. Ander goeie tellings was Wouter Dercksen en Gail Botha (+13) en Pieter en Simeon de Bruyn op +12.
Presteerders van Saterdag se beterbal syfer plus kompetisie - van links, agter: Stephen Muller, Johan Prinsloo, Chris Barnard en Pieter de Bruyn. Voor: Gail Botha, Wouter Dercksen en Simeon de Bruyn.
Wenners van Sondag se Parespel toernooi - van links: Nicolas Mitchell (wenner), Louw Strydom (klubbestuurder) en Heinrich Frylinck (wenner).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'