MOSSELBAAI NUUS - Dit was verlede week behoorlik ‘n miernes van bedrywighede hier by die gholfklub.
Woensdag, 29 November het die sakemanne 160 spelers na hulle gewilde borgdag gelok.
Donderdag, 30 November het die vroue-afdeling van ons klub geen moeite ontsien met die aanbied van hulle jaarlikse “Xmas mixed” dag wat ook 154 spelers die stokke lustig laat swaai het.
Vrydagaand, 1 Desember het die Mosselkrakers en Grysbokke saam met hulle metgeselle hulle jaareind-funksies aangebied.
Sondag, 3 Desember het die Huiseienaars van die Mosselbaai Landgoed hulle jaarlikse kompetisie en ete gehad.
Nie minder as 150 spelers het die dag ondersteun wat afgesluit is met ‘n heerlike ete. Soveel van feestelikhede is lanklaas in een week gesien.
Woensdag
Soos reeds gemeld het die sakemanne soos gebruiklik weer ‘n puik dag aangebied.
Die beterbal stableford kompetisie het gesorg vir strawwe mededinging en John Blythe-Wood en David Bourhill se 49 punte het net-net die knoop vir hulle deurgehaak.
Op 48 punte het ‘n hele klomp spelers hulle stemme dik gemaak en na die uittel het hulle as volg geëindig: André Zeelie en Ian Pautz (2de), Gary Rule en Johnny Fourie (3de), Paul Brits en Karools Hauptfleisch (4de) en André van Wyk en Wynand Stander (5de).
Saterdag
Saterdag, 2 Desember het die gekombineerde stableford kompetisie hoë eise aan die spelers gestel.
Die kompetisie vereis dat die spelers as ‘n paar albei goeie tellings moet aanteken.
Barry Vermeulen was behoorlik op sy stukke en saam met Jannie Lourens teken hulle 88 punte aan.
Die jonger manne, Seger du Plessis en Stephen Muller (86 punte) moes sodoende die knie buig voor hulle veel ouer teenstanders en eindig tweede.
Die wenners van die Sakemannedag is van links, agter: A Zeelie, J Fourie, M van Zyl (meeste gholf), A van Wyk en J Blythe-Wood. Voor: G Rule, I Pautz, C Samboer en P Brits.
Uitstekende gholf is ook deur die volgende pare gelewer: Les en Hester de Jager (77 punte), Fanie van Vuuren en Skippie Scheepers (76 punte), asook Anton en Anton Izaakse (jnr) 75 punte.
Die Desember-vakansie is hier en vele ou bekendes het reeds hulle opwagting gemaak.
Ons sien met groot afwagting uit na die magdom besoekers wat van ons klubgeriewe en mooi baan gebruik gaan maak.
Ons gasvryheid en vriendelikheid sal verseker dat u ‘n aangename gholf-ervaring geniet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'