MOSSELBAAI NUUS - Die Springbokke se reeks-oorwinning oor Engeland het die geesdrif van die getroue Bok-ondersteuners weer behoorlik laat vlamvat.
Om boonop die komende naweek nog een van ons Mosselbaai seuns, Schalk Brits, teen die Rose te sien opdraf, laat ons harte nog verder met trots swel.
Aan Chris en Maryna Brits wil ons ons hartlike gelukwensing oordra met hulle seun se jarelange prestasielys. Sy vriendelike, nederige geaardheid het diep in ons almal se harte gekruip.
Woensdag
Die beterbal stablefordkompetisie wat op Woensdag, 13 Junie deur 144 spelers ondersteun is, het goeie tellings opgelewer. Die egpaar, Gerhard en Susan Combrinck, het op 48 punte die die ander spelers van die eerste plek ontneem. Noël Hudson en Wessel Brand het moedig teenstand gebied, maar op 47 punte was die tweede plek hulle beskore.
Die 80-jarige Stefanus Cronje (voorgee 14) en sy maat, Carlos Pinto, het op 46 punte die derde plek ingeneem. Toesie Dercksen en Hannelie Borchardt het die vroue se vlag hoog laat wapper deur op 45 punte vierde te eindig. André Verwey en Dicky Swanich se 45 punte het aan hulle die vyfde plek besorg.
Saterdag
Saterdag, 16 Junie se oggendweer het die spelers ietwat geknou, maar die middagveld het heerlike Mosselbaai weer beleef. Michal Rehr (voorgee 7), toegewyde raadslid van Mosselbaai-gholfklub, wat deesdae uitstekende gholf speel, het in die A-afdeling 41 punte opgestapel en sodoende die afdeling gewen. Die altyd glimlaggende, entoesiastiese Tracy Venter het op 41 punte in die B-afdeling koning gekraai.
Na Gert Pieterse se oorsese reise het hy vining weer sy ou vorm bereik en op 39 punte het hy sy teenstanders in die C-afdeling ore aangesit. Kelly Muller (41 punte), asook Mike Malan en Paul Gouws (40 punte) moes gaan hout koop, want hulle is ook met heerlike braai-pakke huis toe.
Lede en besoekers moet daarop let dat ons jaarlikse Modderfontein Trust-borgdag Saterdag, 23 Junie plaasvind. Porrie Potgieter is die getroue borg van hierdie dag. Heerlike kerrie en rys sal aan die spelers voorgesit word. Die pragtige Modderfontein-trofee, asook goeie pryse sal aan die beste presteerders van die dag oorhandig word. Kom ons ondersteun hierdie dag in groot getalle.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'