MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Maart het afgeskop met Bounty Wildsverwerking se individuele stablefordkompetisie. Die groot aantal spelers wat Woensdag, 3 Maart opgedaag het, het heerlike gholfweer ondervind.
Michael Kriel het van meet af die pas aangegee en was onkeerbaar. Sy 42 punte het verseker dat hy as wenner uitgetroon het.
Arrie van der Linde, Ryk Smit en Hester de Jager se verdienstelike 40 punte het aan hulle die tweede, derde en vierde plekke besorg.
Bounty het ook gesorg dat die volgende spelers nie met leë hande huiswaarts gekeer het nie. Deon Schoeman en Joos van den Heever, albei op 39 punte, asook Erick Barkhuizen en Ashwell Cameron op 38 punte.
Saterdag
Die nuwe voorgee-berekening blyk effektief te wees as daar na Saterdag, 6 Maart se beterbal stableford-uitslae gekyk word. Die tellings was aansienlik laer was as voorheen. Paul Brits en Adin van Aswegen het geseëvier op 44 punte. Twee vroue wat deesdae blitswarm is, naamlik Bronwyn Powell en Shirley Greig, het op 43 punte as naaswenners uit die stryd getree, nadat hulle die uittel-proses teen Jarno Loubser en Johan van den Berg oorleef het. IJ Olivier en F Naude, asook J Blythe-Wood en D Bourhill, het die vierde en vyfde plekke op 42 punte ingeneem.
Spelers word net weer daaraan herinner dat die inskrywings vir die Winter-uitklopkompetisies op Maandag, 15 Maart sluit. Kom deel in die vreugde van strawwe kompetisie en die bou van nuwe vriendskappe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'