MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope week het ons gholfspelers by tye soms stormsterk winde trotseer, maar steeds was die heerlike samesyn met vriende en besoekers die moeite werd gewees.
Woensdag, 9 November het Mosselbaai Ultra Liquor as ons borg opgetree. Die borg het dit goedgedink om ook ‘n slag die werklike goeie gholfspelers wat as gevolg van hulle lae voorgeë, byna nooit die prystafel besoek nie vir hulle goeie spel te beloon.
Martin Vorster (voorgee +6) teken ‘n skitterende bruto-telling van 66 houe aan. Dit het hom die bruto-wenner gemaak.
Nog ‘n talentvolle speler, Seger du Plessis (+4 voorgee) se 74 houe was ook nie te versmaai nie en hy was die bruto-naaswenner. Die derde plek het aan Pieter Steenkamp (voorgee 4) behoort wat 77 houe nodig gehad het om sy rondte te voltooi.
Die borg het egter ook voorsiening vir die netto-wenners gemaak en hier het Wynand Liebenberg (voorgee 19) met 68 houe koning gekraai. Uys Keyser (voorgee 8) was ‘n gewilde naaswenner op 70 houe. Veteraan Pieter Barnard (voorgee 20) se 71 houe het hom in die derde plek geplaas.
Gregory Fenn (71 houe) en Wouter Kotzé (72 houe) was die ander gelukkige pryswenners. Baie dankie aan ons klubkaptein, Michal Rehr, wat hierdie geborgde dag moontlik gemaak het.
Saterdag
‘n Stormsterk wind het Saterdag, 12 November die spelers se vermoëns behoorlik beproef. Die vierbal alliansiekompetisie het goeie spanwerk vereis. Joan Zietsman het haar span, bestaande uit Chris van den Berg, Andy Beukes en André Zeelie, sukses laat proe met die 88 punte wat hulle opgestapel het.
Noël Domingo, Alfred du Plessis, Corné Lindeque en Johan Spangenberg se 84 punte het gesorg dat hulle ook nog Saterdagaand ‘n vuurtjie kon gaan aansteek.
Die derde plek het aan Michal Groenewald, Johan Strauss, Ezra Rheeder en Francois de Lange behoort.
Die klubkampioenskappe op 11 en 12 Desember kom nou vinnig nader. Lede word versoek om so gou as moontlik hulle name op die inskrywingslys aan te bring.
Besprekings vir Desember stroom ook in, so bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'