MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-gholfklub se top junior, Martin Vorster, het verlede week ‘n groot hoogtepunt bereik deur in Italië die Italiaanse internasionale kampioenskap (onder 16) met drie houe te wen.
Sy finale telling van sewe houe onder is die beste telling wat nog ooit in die geskiedenis van hierdie kampioenskap aangeteken is.‘n Blink toekoms wag op hierdie talentvolle, toegewyde, goedgemanierde seun. Martin ons harte swel van trots oor hierdie besonderse prestasie.
Woensdag
Divvie de Villiers van Bounty Wildsverwerking het op Woensdag, 6 September weer die spelers se monde laat water met die heerlike vleispryse wat hy aan die wenners oorhandig het.
Die individuele stableford kompetisie is in drie afdelings beslis. Jacques Borchardt (voorgee 8) het die A-afdeling (voorgee 0-13) totaal oorheers en op 45 punte het hy sy teenstanders ligjare agtergelaat.
Hester de Jager (voorgee 17) het die skoner geslag se naam hoog gehou deur op 41 punte baas te speel in die B-afdeling (voorgee 14-22). Dean Bouwer se 39 punte in die C-afdeling (voorgee 23+) het gesorg dat eienaarskap van die afdeling aan hom toegeken is.
Die volgende spelers het ook met heerlike vleispakke huiswaarts gekeer: H Klopper (41 punte), P van Schalkwyk (40 punte), asook J van Rensburg, A van der Linde, A van Wyk en L de Jager, almal op 39 punte. Baie dankie Divvie vir jou getroue borgskap maand na maand.
Saterdag
Ten spyte van al die groot rugbywedstryde het daar nogtans 132 spelers Saterdag, 9 September opgedaag om aan die vierbal alliansie-kompetisie
deel te neem. Hierdie spanverband-kompetisie is veral by die ouer garde baie gewild, maar Saterdag het die jongmanne behoorlik vlamgevat. Die vierbal van Charles Taute, Johan Prinsloo, Stephen Muller en Wikus Lourens het 101 punte aangeteken, voorwaar ‘n uitmuntende telling.
Die pa-en-seun-kombinasie van Kelvin en Kass Muller, CP Coetsee en hulle spookmaat het self goed presteer deur 99 punte daar te stel en sodoende die tweede plek in te neem.
Donny Smith se voorgee-ligaspan het Saterdag op Pezula ‘n blink vertoning teen Riversdal gelewer deur met met 10 wedstryde teenoor twee hulle weg oop te baan na die halfeindstryd wat op 30 September by Pinnacle Point plaasvind.
See video below.
VIDEO: LINDA SPARG, MOSSEL BAY ADVERTISER SUB-EDITOR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'