MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die 148 spelers wat op Woensdag, 8 September aan die Nashua maandelikse gholfdag by die Mosselbaai-gholfbaan deelgeneem het, het mekaar behoorlik opgekeil.
Om die wenner te bepaal moes daar ‘n uittel tussen vier spelers op 41 punte gemaak word.
Manfred du Preez was uiteindelik die oorwinnaar met Russel Hendry, Pieter Barnard en Koos Snyman in die tweede, derde en vierde plekke.
Nashua het egter gesorg dat Maurice Bernardo (40 punte) en Jarno Loubser (39 punte) ook kon deel in die vreugde en met geskenkbewyse huiswaarts kon keer. Met Nashua wat aan boord gekom het, voorsien die klub ‘n lang en vreugdevolle pad wat saam gestap sal word.
Saterdag
Saterdag, 11 September se individuele stablefordkompetisie het in heerlike weer plaasgevind. Die mededinging was straf maar Jakkie van Niekerk (41 punte) het die goue appel net-net voor Joe Luggen en die nimlike Oosie Oosthuizen, albei op 40 punte, weggeraap. Om die oorblywende plekke is daar verwoed meegeding en na die uittel is David Bourhill (39 punte) vierde geplaas. Rouxwy van Wyk en een van die klub se talentvolle juniors, Sam Gouws, het die vyfde en sesde plekke op 39 punte ingeneem. Nog was dit niet het einde nie en Pierre Botes (38 punte) en Wiekus Pretorius (37 punte) is ook nog beloon vir hulle aanslag op die louere.
Winter-uitklopkompetisie
Die Winter-uitklopkompetisie het ook ‘n einde aan André du Plessis se aanslag op die kampioenskap gebring toe hy teen ‘n formidabele liga-speler, John Blythe-Wood, die knie moes buig. In die dubbelspel het André Zietsman en Joe Luggen, twee 79-jariges, verras deur die gedugte kombinasie van David Bourhill en John Blythe-Wood op die laaste putjie tot oorgawe te dwing. Welgedaan manne.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'