André du Plessis (38 punte) was tweede, met Kosie Otto (37 punte) in die derde plek.
In die A-afdeling is Donny Smith ook stadig maar seker besig om weer topvorm te bereik deur op 37 punte te seëvier. Die manne in die A-afdeling het behoorlik les opgesê as daar na die tellings gekyk word. Tweede was Derek van Heerden op 30 punte, met klubbestuurder, Louw Strydom, op 25 punte in die derde plek.
In die C-afdeling het die punte nie veel beter gelyk nie. Die jonger manne moes bloos toe George Sadowski, wat reeds in sy tagtigerjare is, op 37 punte stof in hulle oë geskop het. Die naaswenner, Brian Power (32 punte), was net so verbaas soos Elias Engels (29 punte) om in die pryse te deel.
Saterdag
Die gekombineerde stableford kompetisie, wat op Saterdag, 7 Junie in heelwat aangenamer weersomstandighede plaasgevind het, het die dodelike kombinasie van klubkaptein Gavin Reynolds en Noël Domingo sterk na vore laat tree en hulle wen dan ook die A-afdeling op 'n uitstekende telling van 76 punte.
Dave Johnstone en Colin Brown het met nege punte minder op 67 houe tweede geëindig.
In die B-afdeling het André Middel en Jaco Erasmus se 73 punte genoeg gewees om die louere in te oes. Die altyd kompeterende Martiens Mulder en Johan Buys was die naaswenners op 71 houe.
Die skoner geslag het die C-afdeling oorheers, met Ina Swart en Dawn Wessels op 67 punte die wenners. Joan Zietsman en Hennie Botha (beslis nie skoner geslag nie) was die naaswenners na die uittel, ook op 67 houe.
Dit raak nou die stiltyd by ons Gholfklub en lede word versoek om as dit moontlik is, die stokke te kom swaai en die heerlike samesyn met vriende te geniet.
Julle getroue ondersteuning het nog al die jare gehelp dat ons klub nog steeds van krag tot krag gaan.
Om na al die moeilike jare weer die 70ste beste baan in die land te wees, is voorwaar 'n prestasie om op trots te wees.
Wenners van die die maandelikse Coastal Meat-gholfdag (agter:) Dawid Venter, Christo Langenhoven (borg) en Derek van Heerden, (voor:) Donny Smith, Linchen Wessels, Andre du Plessis, George Sadowski en Brian Power.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'